NewsNews

60 jaar – Die verhaal van ‘n leeftyd saam

60 jaar – Die verhaal van ‘n leeftyd saam

Annatjie Koekemoer skryf:

My pa, Koos Joubert, was werksaam by Yskor vanaf Januarie 1954 tot 1974 en daarna by Metalbox tot Maart 1994.  Hy het op “vroeë pensioen” gegaan en hul was daarna baie betrokke by die Hervormde kerk Rietspruit gemeente.

My ma, Johanna Joubert, het onder andere by destydse Henter Motorengineurs (Duncanville) asook by Vondel hardeware (Vanderbijlpark) gewerk, maar haar grootste verantwoordelikheid was om na ons 4 kinders om te sien!  Wat sy met die grootste liefde gedoen het!

Ons is so dankbaar vir hulle en dat hulle op hul Geseënde jare steeds BAIE gesond en onafhanklik is. Pa speel elke Maandag golf, en vaar regtig glad nie sleg nie, maar volgens hom is dit  glo om fiks te bly…HA HA HA!!!  Hul woon die laaste paar jaar in Duncanville en is intens betrokke by die Duncanville Hervormde kerk se gemeente en ons glo dat hulle nog diep spore voorentoe sal trap in die gemeenskap!

Koos se noemnaam vir Johanna is Kokkewiet, en een tyd was daar ‘n berig in ‘n koerant met die hoof opskrif “KOKKEWIET, JY LAAT MY HART SING”…my pa het dit uitgeknip en teen hul kombuis kas geplak vir my ma!  Dis al ‘n paar jaar terug maar steeds teen die kas!  Dis sulke klein spesiale dingetjies wat maak dat ‘n mens mekaar steeds waardeer na 60 jaar se getroude lewe!

My ouers was laas jaar die slagoffers van ‘n huisroof. My ma se troupand van 43 jaar was van haar vinger afgehaal!  Was vir hulle baie traumaties, maar ons is so dankbaar dat hul nie seer gemaak was nie! Ons sal BAIE GRAAG daardie troupand wou terug kry…seker hul sou dit iewers gaan smous het!

Hier is my dogter se “verhaal” oor my ouers:

Glo jy in liefde met die eerste oogopslag? 1955 was die begin van iets baie waardevol en mooi wat vanjaar ‘n volle 60 jaar herdenk. Op die ouderdom van 19 staan Koos buite hul erf by die tuin se hekkie in Vanderbijlpark vir sy vriend en wag. Terwyl Koos so staan en wag vang iets of sal mens eerder se iemand sy oog. Buite in ‘n ander erf ‘n paar huise van Koos af is daar 3 sussies besig om tou te spring. Koos het geweet dat hulle daar bly maar het nooit regtig kontak met hulle gehad nie. Van wat Koos kon uitmaak was die oudste sussie, Johanna(14) juis die een wat sy oog gevang het. Hy het so by homself gedink dat sy baie mooi is en eendag n baie mooi vrou gaan wees, min wetend dat sy eendag sy vrou sou wees…

Later in die jaar het Koos en Johanna mekaar raak geloop by iemand se begrafnis reëlings. Weereens was dit net ‘n oogontmoeting en niks het dadelik verder daarvan gekom nie. Later in die jaar van 1955 het Koos betrokke geraak by die jeugbond. Tot sy voordeel het Johanna en haar broers ook later betrokke geword. Wat veroorsaak het dat hulle wel nou baie meer tyd saam spandeer het en baie meer saam gekuier het. Johanna het 2 ouer broers gehad wat al 2 belangestel het in Koos se 2 jonger sussies. Die enigste manier hoe Johanna se 2 boeties die 2 jonger sussies van Koos kon uitvat was as Koos saam gegaan het om na sy 2 sussies te kyk, want ouers was baie streng en moeilik! Johanna se broers het dan altyd aan gehou dat Johanna ook moet saam sodat Koos ook darem geselskap sal kan hê min wetend dat Johanna tog wel al ‘n geruime tyd terug reeds Koos se oog gevang het! In daardie tyd het Koos en Johanna gevoelens vir mekaar begin kry, maar as gevolg van die 5 jaar ouderdomsgaping op daai oomblik sou nie een van die 2 se ouers n verhouding goed gekeur het nie. Koos het wel steeds in daai tyd op n gereelde basis klein bederfies vir Johanna gekoop omdat sy baie spesiaal vir hom was. In 1957 het koos en Johanna wel stil weg n paartjie geword.

Ongelukkig vir Koos het die eerste ramp hom getref toe Johanna en haar familie in Oktober 1957 na Johannesburg toe getrek het. Koos het op daardie stadium gewerk deur die week en kon dus net naweke deur ry om vir Johanna te kon gaan kuier het. Daar was ook nie die gerief van selfone om heeltyd te kon praat nie so naweek kuiertjies is iets waarna albei baie uitgesien het. In Augustus 1958 tref die 2de ramp vir Koos wanneer Johanna hul Pretoria toe trek. Dit het veroorsaak dat Koos elke naweek nou nog verder moes ry om vir Johanna in Pretoria te kon gaan kuier. Desember 1958 voltooi Koos sy vak leerlingskap en word toe n ambagsman. Hy het ook daar besluit dat hy nou genoeg daarvan gehad het om so ver elke naweek deur te ry. Koos besluit toe om die groot vraag te vra en op ‘n Maandag gaan haal Koos vir Johanna tydens etenstyd en neem haar na die Fonteine daal in Pretoria…en dis daar wat Koos vir Johanna die ja woord vra. Johanna het ja gesê en hul het direk van daar na Sterns toe gery om Johanna se verloofring te koop vir 30 pond. Daardie aand eers is die ouers se toestemming gevra.

Johanna se ouers, wat dadelik ja gesê het, het gesê hulle soek 6 maande om die troue te reel. Dis toe dat hulle op die datum 4 Julie besluit het. Hulle het in die NG kerk Pretoria Wes getrou en die diens was gelei deur ds Van Vuuren. Koos hul het nooit n wittebrood gehad nie want Koos en Johanna het die Saterdag getrou die Sondag terug gery, siende dat Koos daardie Maandag moes werk en nie sou kon afkry vir wittebrood nie. Alhoewel hul na die troue nie n “wittebrood” gehad het nie sê Koos dat hulle wel n “toebroodjie” tyd gehad het omdat Johanna elke dag toe vir hom toebroodjies in gepak het werk toe. Na die troue het Koos en Johanna saam in n woonstel in getrek. In 1960 raak Johanna swanger met hul eerste kind. Koos hul toe daar besluit om n huis te koop want hul wou nie die kind in n woonstel groot maak nie. Dié 3 slaapkamer huis in Vanderbijlpark was 3200 pond. Na dit was Koos en Johanna verder met nog 3 kinders geseën. Daar sal altyd uitdagings wees wat ‘n huwelik kan maak of breek, maar in dié geval was breek nooit eers ‘n opsie nie! Wanneer iets vir jou so mooi en kosbaar is werk ‘n mens hard daaraan en vertroetel jy dit daagliks en daarom vandag op die ouderdom van 83 is Koos en Johanna 78 geseënd in oorvloed met 4 kinders, 8 kleinkinders (waarvan hulle ongelukkig een kleinseun in 2004 aan die dood moes afstaan na ‘n motorfiets ongeluk op die jong ouderdom van 19 jaar) en 6 agterkleinkinders en is hulle steeds baie opgewonde en positief oor wat die toekoms verder vir hulle inhou en sien hulle saam met die res van hul familie baie uit na hul 60ste huweliksherdenking

Dis ook dan vir my die grootste voorreg om dié storie van my Oupa Koos en my Ouma Johanna te kon deel omdat dit daagliks vir my n inspirasie en motivering is dat daar wel iets soos ware liefde is. Mens moet net bereid wees om hard te werk en uit te hou. Dis vandag net te maklik om op te gee. Om terug te kom na my vraag in die begin, ja ek glo in liefde met die eerste oog opslag veral na my oupa en ouma se verhaal, want dit beteken nie noodwendig ‘n kits verhouding of huwelik nie…nee dit mag dalk eers oor maande begin ontwikkel, maar met daai eerste oogkontak sal jy weet…en wie weet dalk het ek al my trou man gesien, maar moet ek net wag tot tyd in ons guns tel en ek hom ontmoet. 4 Julie 1959 – die tyd wat ‘n jong liefde saamgebind was en net met die tyd beter en sterker saam oud geword het….

 

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button