NewsNews

Kerk spook met voortdurende waterlek

Water wat al vir maande uit die pad voor ‘n kerk lek, is besig om personeel en ander inwoners van die omgewing warm om die boordjie te maak.

Volgens mev. Magda Potgieter, wat in die kantoor van die NG Kerk Moedergemeente in Berylstraat werk, sukkel die kerk al sedert einde Augustus dat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit aan ‘n waterlek in die straat voor die kerk aandag gee.
Die water syfer uit die teer by die parkeerplekke reg voor die kerk en vloei in die straat af tot by die pastorie.
“Ek het die munisipaliteit al verskeie kere gebel, maar niemand het nog gekom om iets aan die probleem te probeer doen nie,” kla Potgieter.
Ten tye van die Herald se besoek het ‘n inwoner wat oorkant die kerk woon, gesê dat hy ook al die lekkasie by die munisipaliteit aangemeld het.
“Ek kan nie glo die munisipaliteit los die water net so om te lek nie. Ek wil nie weet hoeveel water al hier vermors is nie.
“Dis net goed die waterlek is nie groter nie, dan was hier dalk al ‘n sinkgat gewees,” het Potgieter gekla.
Volgens die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit se kwartaal-verslag, wat tydens die raadsvergadering van 25 Oktober bespreek is, het 45.12% van die water wat die munisipaliteit in September van Rand Water aangekoop het, om een of ander rede net verlore gegaan.
Dit is egter beter as die 55,58% en 46,39% wat gedurende die vorige twee maande verlore gegaan het.
Teen einde September het die munisipaliteit Rand Water reeds R2 069 219 geskuld.
* Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag oor die waterlek voor die kerk uitgevra.

Related Articles

Back to top button