NewsNews

Swanger jong vrou en ma sterf saam

SASOLBURG. – Die klein gemeenskap van Heilbron rou oor die dood van ‘n geliefde jong boervrou, Yolandé Kruger (25), wat verlede Saterdag saam met haar ma, mev. Sonja Venter (49) in ‘n tromp-op botsing op die R57-roete naby Sasolburg gesterf het.

SASOLBURG. – Die klein gemeenskap van Heilbron rou oor die dood van ‘n geliefde jong boervrou, Yolandé Kruger (25), wat verlede Saterdag saam met haar ma, mev. Sonja Venter (49) in ‘n tromp-op botsing op die R57-roete naby Sasolburg gesterf het.

Die twee vroue was met Yolandé se seuntjie van sowat 3 jaar, Leon jr. vanaf Vanderbijlpark na die Krugers se familieplaas, Modderkuil, tussen Heilbron en Sasolburg op pad toe ‘n voertuig reg van voor teen hulle gebots het.

Yolandé en Sonja het op slag gesterf. Klein Leon, wat in ‘n veiligheidstoeltjie op die agtersitplek gesit het, het kneus- en skaafmerke opgedoen en is per ambulans na Mediclinic Emfuleni geneem. Die vroulike bestuurder van die ander voertuig, wie se identiteit teen Vaalweekblad se saktyd nog nie bekend was nie, is ook op slag dood. Twee insittendes van dié voertuig is in ‘n kritieke toestand met noodhelikopters na hospitale vervoer en nog twee is met ambulanse weggeneem.

Yolandé en haar man Leon het verlede week die goeie nuus gekry dat sy vyf weke swanger was met hul tweede kind. Dié jong vrou, wat deur haar vriendinne as ‘n “regte babbelbekkie” beskryf is, het in Vanderbijlpark grootgeword waar sy aan Hoërskool Driehoek skoolgegaan het.

Buiten haar take as boervrou was sy die afgelope tyd ook betrokke by kleuterskoolonderrig in Heilbron. “Yolandé was verskriklik lief vir haar man en seuntjie en het ‘n passie vir kinders gehad. Sy kon so mooi met kinders werk. Dit was haar droom om haar onderwyskwalifikasie te voltooi. Sy was ‘n baie harde werker,” sê ds. Tommy van Vuuren van die Gereformeerde Kerk in Heilbron, wat die egpaar getrou het en ook hul seuntjie gedoop het. Sy was diep gelowig en baie betrokke by kerkbedrywighede sowel as by die plaaslike boeregemeenskap. Een van haar vriendinne, Samantha Cilliers, sê sy was die soort mens met wie almal maklik oor die weg gekom het – “’n absolute dierbare mens wat altyd net goed wou doen aan ander,” sê sy.

Yolandé se ma, Sonja, het onlangs na die Vaaldriehoek teruggekeer nadat sy sewe maande in Kemptonpark gewerk het.

Die begrafnisreëlings was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie gefinaliseer nie, maar tentatief is beplan om die moeder en dogter Vrydagoggend (gister) saam in die familiekerkhof op die plaas Tarka tussen Heilbron en Sasolburg te begrawe.

Klein Leon is Maandag uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan. “Hy is slim vir sy ouderdom. Dit lyk asof hy die familie se verduideliking dat sy mamma oorlede is, verstaan, maar hy vra steeds nou-en-dan na haar,” sê ‘n familielid.

Wyle mev. Sonja Mazirel Venter (49)
Wyle mev. Sonja Mazirel Venter (49)
Wyle Yolandé Kruger en haar seuntjie Leon junior.
Wyle Yolandé Kruger en haar seuntjie Leon junior.
Een van die voertuie wat in die botsing betrokke was.
Een van die voertuie wat in die botsing betrokke was.

09-09-at-15_33_47-1-520x400

Related Articles

Back to top button