NewsNews

ANC herbesin oor Eskom

Ngwathe se ontwerp-begroting vir die nuwe boekjaar (vanaf 1 Julie), asook ’n skikkingsvoorstel oor die R360m in agterstallige Eskomskuld, is toe nie verlede Vrydag op ’n buitengewone raadsvergadering, wat spesiaal daarvoor belê is, goedgekeur nie.

Ngwathe se ontwerp-begroting vir die nuwe boekjaar (vanaf 1 Julie), asook ’n skikkingsvoorstel oor die R360m in agterstallige Eskomskuld, is toe nie verlede Vrydag op ’n buitengewone raadsvergadering, wat spesiaal daarvoor belê is, goedgekeur nie.

Teen druktyd was dit ook steeds nie bekend of Eskom gaan deurdruk met sy plan om vanaf 5 Junie (Vrydag) daagliks al vyf Ngwathe dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) se kragtoevoer te sny van 06:00-10:00 Maandae tot Vrydae, en Saterdae en Sondae van 7:00-10:00 en weer van 17:00-20:00 weens dié munisipaliteit se agterstallige Eskom-skuld. Eskom het egter gesê dat kragonderbrekings in spits verbruikerstye weens Ngwathe se wanbetaling, die dorpe nie sal kwytskeld van normale beurtkragtye bo en behalwe die daaglikse tye waarvoor kennis gegee is.

In ’n verrassende wending het die ANC erken dat albei planne (die skikkingsvoorstel en ontwerp-begroting) steeds onbevredigend is en voorgestel dit word terugverwys vir aanvulling en regstelling. Met opposisiesteun is dit eenparig so aanvaar.

Dit beteken Ngwathe se munisipale begroting is vanjaar nie, soos die wet vereis, goedgekeur voor 31 Mei nie. Dit sal nou na verwagting eers vandag, tydens ’n Spesiale Raadsvergadering in Vredefort, gebeur.

DA-raadslede was “aangenaam verras” sê Carina Serfontein, voorsitter van die DA se koukus van nege Ngwathe-raadslede. “ Ons was voorbereid om te bewys dat albei dokumente mistas oor Ngwathe se verwagte inkomstevloei, en daarom nie die Eskom-skuldlas kan verminder nie. En toe erken die ANC-lede dit voordat ons iets kon sê.”

Sy sê die ontwerp-begroting is toe verwys na ‘n spesiale komitee wat dit dringend sou aanpas en kombineer met ’n realistiese afbetalingsvoorstel. “Dis ‘n eenpartykomitee met net ANC-lede, maar die DA het op ANC-versoek geskrewe insette gelewer, “ sê sy.

Sonder ‘n aanvaarde skikkingsvoorstel was Eskom blykbaar steeds van voorneme om vanaf môre (5 Junie) daagliks krag na Ngwathe se vyf dorpe te onderbreek. Die Raad se Uitvoerende Komitee (UK) het drie weke gelede die voortslepende skuldkrisis bespreek. Die UK het ‘n nuwe afbetaalplan, opgestel deur amptenare, egter as “onhaalbaar” verwerp. ‘n Senior amptenaar van SALGA (die SA Plaaslike Bestuurs-assosiasie), wat munisipale rade bystaan het gesê SALGA het ‘n regsopinie bekom dat Eskom se dreigement van addisionele beurtkrag vanaf 5 Junie nie wettig is nie.

Sekere komitees van die Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering het SALGA ingelig dat hulle ook voorbehoude oor Eskom se voorgenome optrede het. Ook die DA glo dat die regte van betalende inwoners geskend sal word as Eskom krag sou afsny.

SALGA het Eskom blykbaar gewys op regulasies wat verhoed dat elektrisiteitsvoorsiening goedsmoeds gestaak kan word. Die SALGA-amptenaar het gesê Ngwathe moet hom nie deur Eskom in ‘n nie-haalbare betalingsplan laat indwing nie. SALGA het blykbaar verlede week voortgegaan om Ngwathe in sy skuldkrisis by te staan. Die resultaat was by ons ter perse gaan nog onbekend.

Ngwathe kan reeds jare lank nie sy lopende elektrisiteitsrekening vereffen nie. Agterstallige skuld word nou maandeliks gedeeltelik per aftrekorder van ‘n halfmiljoen rand elk gedelg, en gedeeltelik, soos interowerheidstoekennings ontvang word, is R20m of meer daaruit aan Eskom oorbetaal. Hierdie betalings is onvoldoende, onder meer weens kragdiefstal en wanbetaling, en die skuld hou aan styg. Opposisie-raadslede bepleit lank reeds fermer stappe teen kragdiewe en wanbetalers. “Dis ook duidelik dat kragverkope nie meer aan die munisipaliteit oorgelaat kan word nie,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel.

“Eskom moet self oorneem, of ’n privaatfirma betrek.” ‘n Petisie wat dit versoek, opgestel deur ’n plaaslike sakeman, mnr Saal de Jager, met meer as tweeduisend handtekeninge, is vandeesweek aan NERSA(die Energiereguleerder) gestuur.

(Lees ook Eskom nie verplig om krag te voorsien sonder betaling, sê regter)

Related Articles

Back to top button