NewsNews

Gekaap, ontvoer en gemartel: Pa ontsnap wonderbaarlik

’n Pa is in Mohadin gekaap, ontvoer en later in Ikageng gemartel, voordat hy ontsnap het. Dié jong pa, Christiaan Halliday (21) is vir omstreeks 10 ure aangehou nadat hy ontvoer is.

’n Pa is in Mohadin gekaap, ontvoer en later in Ikageng gemartel, voordat hy ontsnap het. Dié jong pa, Christiaan Halliday (21) is vir omstreeks 10 ure aangehou nadat hy ontvoer is. Die feit dat hy dié beproewing oorleef het, is ’n wonderwerk.

Op 20 Mei omstreeks 23:15 het Halliday by die huis van sy vennoot in Mohadin gestop. “Ek het gesien daar loop ’n man in die straat wat lyk of hy dronk is, maar my nie veel daaraan gesteur nie. Soos ek uit die kar geklim het, het een van die kant gekom en ’n vuurwapen teen my kop gedruk,” vertel Halliday. Hy is daarna in sy kar geboender met ’n baadjie oor sy kop en die vuurwapen op hom gerig. Die verdagtes het met hom gery tot by die ou asgate.

“Hulle het my uit die kar gegooi en my begin skop en slaan. Hulle begin toe die kar deursoek. Daar het rekenings van my huis gelê, my kind se skoolrekening, my ID-dokument was alles in die voertuig,” sê hy. Die verdagtes wou kontant by Halliday gehad het, nadat hulle al die rekenings gesien het. Hy het besluit om kalm te bly. Hy het aan die verdagtes verduidelik dat daar niks geld in sy bankrekening is nie.

“Hulle wou nie OTM toe ry nie, want daar is kameras. Ek het gesê ek sal op my internetbankdienste wys dat daar niks geld is nie. My foon se skerm was stukkend, ek kon hulle niks wys op my foon nie. Ons het weer gery, gelukkig het my kar nie baie petrol in gehad nie,” vertel Halliday. Die verdagtes het by ’n vulstasie in Ikageng gestop om een van die joggies te oorreed om vir hulle petrol te gee in ruil vir ’n selfoon. Nadat dit nie gewerk het nie, het hulle ingery dorp toe waar die voertuig voor ’n vulstasie gaan staan het. “Dit is toe dat hulle vir my sê ek moet nou ’n plan maak vir petrol of hulle gaan my net hier doodskiet,” vertel Halliday.

Die petroljoggie het ingestem om vir hulle R50 se petrol te gee as Halliday sy ID-dokument by die stasie los. Daarna is die verdagtes met Halliday na ’n huis in Ikageng waar hulle hom vasgemaak het. Teen die tyd was sy nagmerrie al drie ure aan die gang. “Hulle het my met die vuurwapen in die gesig geslaan en in my gesig gespoeg. In ’n stadium het hulle ’n pyp in my keel ingedruk om water by die pyp af te spoeg sodat ek verstik. Ek het heeltyd net aan my kind en my vrou gedink, want hulle het al my persoonlike inligting gehad,” vertel Halliday.

Christiaan staan by die SAPD by die huis waar hy aangehou is
Christiaan staan by die SAPD by die huis waar hy aangehou is

Teen 04:00, vyf ure nadat Halliday ontvoer is, het die verdagtes vir hom ’n selfoon gebring sodat hy vir hulle kan wys dat daar nie geld in sy bankrekening is nie. Hulle het daarop aangedring dat Halliday sy familie moet bel om oor ’n losprys te onderhandel. Niemand het Halliday se oproepe beantwoord nie. Die verdagtes is weer weg uit die huis. Volgens Halliday het hulle die musiek in die huis hard gesit sodat niemand hom kon hoor skree nie.

“Ek het seker vir so twee ure gesit, toe ek hoor die diens by die Moskee begin. Ek het besef dat ek naby aan Mohadin is. Ek het my kans waargeneem en seker vir so uur probeer, totdat ek uiteindelik losgekom het,” vertel Halliday. Hy het uiteindelik die diefwering en die venster van die huis gebreek gekry om deur die venster te klim. Hy het in die straat af gehardloop na mense wat hy ken waar hy die polisie gebel het. Dit na ’n 10 ure-lange nagmerrie.

Christiaan se motor nadat die verdagtes ‘n man raakgery het. Regs in die hoek is die man wat raakgery is. Foto: Verskaf
Christiaan se motor nadat die verdagtes ‘n man raakgery het. Regs in die hoek is die man wat raakgery is. Foto: Verskaf

“Ek het die polisie na die huis gevat waar ek aangehou is. Toe ons terugkom by die polisiestasie, het my swaer vir my gevra of dit nie my kar is wat daar verbyry nie. Hulle het so stadig verby die polisiestasie gery met die musiek wat kliphard speel,” vertel Halliday.

Die polisie het die verdagtes agternagesit. Terwyl die verdagtes weggejaag het, het hulle ’n voetganger raakgery. Volgens Halliday het die speurder, konst. Abrahams van die Ikageng polisiestasie twee van die verdagtes in hegtenis geneem. Die voetganger is hospitaal toe met matige beserings.

“Ek sou niks anders gedoen het as ek dit moes oordoen nie. Ek het geweet ek moet kalm bly en saamwerk,” vertel Halliday. Volgens adj.-off. Ishmael Mohutsioa, polisiewoordvoerder, het twee van die verdagtes, Bonolo Estian (27) en Johannes Malgas (28) albei op 23 Mei op aanklagte van motorkaping, ontvoering en roekelose en nalatige bestuur in die hof verskyn.

Hulle is steeds in aanhouding en moet op 3 Junie weer in die hof verskyn. Halliday se suster, Jenny, bedank die Ikageng-polisie en Charlies Security vir hulle vinnige optrede.

Related Articles

Back to top button