Local newsNews

Verlore dogtertjie na gesamentlike aksie in die Fochville-omgewing gevind

Die dogtertjie het mediese behandeling ontvang na sy in gisteraand se yskoue weer teriggevind is.

Verskeie inwoners en lede van formele strukture het gister vir ure onverpoosd saamgewerk om ‘n klein dogtertjie wat op ‘n plaas in die Fochville-omgewing weggeraak het, te vind.

Die tweejarige dogtertjie het blykbaar van ‘n plaas naby die kruising van die R500 en die Potchefstroom/Vereenigingpad weggeraak.

Die kind se ouers het hulp gevra na die dogtertjie gister (Dinsdag 9 April) omstreeks 09:30 van hul huis weggedwaal het.

Lede van die Fochville GPF (gemeenskapspolisiëringsforum), die polisie, ambulansdienste en boere van ‘n wye area het gehelp om na die kind te soek. Polisiehonde is ook in die soektog gebruik.

Die dogtertjie is op die ou end eers na 22:00 met die hulp van ‘n hommeltuig (drone) in ‘n mielieland op ‘n ander plaas gevind.

“Gisteraand het ek net weer besef wat se belangrike werk die GPF doen en veral in die boeregemeenskap. Boere van sover as bykans in Potchefstroom het gery om hulp aan te bied. Die SAPS met hul honde en die infrarooi drone  – wat ‘n belewenis om hulle te sien werk. En laaste maar nie die minste nie die EMS personeel, Gauteng en privaat. Julle mense daar buite, hierdie mense doen sulke ondankbare werk maar hulle is so belangrik in ons sameling,” het ‘n inwoner, Sonja Bence, na aanleiding van die reddingsaksie gesê.

Fochville SAPS se stasiekommisaris, Lt-Kol Kgomotso Netshitangani, het ook al die reddingswerkers bedank.

“Baie dankie vir al jul tyd en omgee. Dankie dat vir julle liefde en omgee om die kind lewendig terug te vind. As dit nie vir die gemeenskap se hulp was nie, sou dit baie moeilik gewees het om die kind te vind,” het Netshitangani gesê.

 

 

Related Articles

Back to top button