Local newsNews

Duisende stap Kruistog deur Vredefort se strate

'n Ongelooflike projek wat die mense van Vredefort maar ook van ander dorpe jaar na jaar oor die Paastyd saamsnoer.

In die Vrystaatse dorpie, Vredefort, het duisende voete vanoggend deur die strate van Vredefort geloop. Mense van sover as Johannesburg, Kaapstad en selfs uit die buiteland. ‘n Via Dolorosa in die hart van die Vredefort Koepel om die boodskap van Paasfees op die besondere wyse te beleef.  Elkeen met sy kruis.

“Alles voor en alles na die kruis wys terug na die kruis. Die kruis staan in die middel van dit alles. Tetelestai – dit is volbring -die laaste kruiswoorde waarmee die transaksie beklink is. Ons is duur gekoop, en dit was geen goedkoop prys,” het Juan Greeff in sy boodskap gesê.

‘n Boodskap wat in harte beleef is toe die sirkelroete vanoggend gestap is. Die tog is voorafgegaan deur samesang en die gebruik van die nagmaal.

‘n Ongelooflike projek deur die gemeenskap van hierdie dorp wat jaar na jaar vir weke lank werk om skoon te maak en mooi te maak vir wanneer dié dorp sy hart en sy strate oopmaak vir mense van oral oor om Paasfees op dié manier te beleef.

‘n Projek wat mense saamsnoer want dit is wat die gemeenskap van Vredefort wil hê mense moet die dorp voor onthou.

“Ons dank die Here vir ‘n geseënde Kruistog. Altesaam 3 222 mense het hul kruis vandag in Vredefort opgeneem en die Kruistog voltooi. Al die eer aan die Here,” het Juan gesê.

Verlede jaar het 2 400 mense die Kruistog voltooi.

Duisende plastiekblomme is deur oud en jonk vir die vlot gevou wat die wederkoms voorgestel het. Die vlot was aan die voorpunt van die optog.

Selfs die kinders het ‘n kans gekry om deel te neem aan die vooraf sang.

Die kruis waaraan mense ‘n nota kon vassit van dit waarmee hul worstel.

Leana Meyer lui die kerkklok by die NG Kerk in Vredefort tydens die Kruistog.

Die helder klokslae van die kerk se kloktoringhorlosie weerklink nou weer soos vroeër deur die strate van Vredefort nadat die horlosie weer aan die loop gekry is kort voor die Kruistog. Dit was een van die drome van die Kruistog orgniseerders om weer die klokslae te kon hoor.

Aan die einde van die Kruistog het elkeen ‘n gratis aandenking gekry om hulle te herinner aan die boodskap van Paasfees.

Langs die roete was verskeie stasies wat die lewe en gelykenisse van Jesus uitgebeeld is. Ook dit is deur die gemeenskap van Vredefort gemaak en stel boere van die distrik jaarliks hul sleepwaens beskikbaar vir die bou van dié stasies.

Oral langs die roete was lappe om die lamppale gedraai met die boodskap van Paasfees op elke paal.

Juan Greeff wat die Paasboodskap gebring het.

Soos vorige jare is daar ook ‘n kruisformasie hommeltuigfoto  geneem van mense wat die dag bygewoon het.

Duisende mense het die Kruistog deur Vredefort se strate voltooi.

Die Kruistog is meer as wat jy vandag in Vredefort beleef het. Jaar na jaar vat die gemeenskap van die Vrystaatse dorpie hande om skoon te maak en reg te maak vir wanneer die dorp sy strate en sy hart oopmaak vir mense om Paasfees op ‘n besondere manier te beleef. Die spuitfontein by die ingang van die dorp is voor die eerste Kruistog herstel en is steeds ‘n sieraad van die dorp.

Mense kon by elke stasie stilstaan en iets beleef van Jesus se lewe of Sy gelykenisse wat Hy vertel het.

Soos wat daar gestap is, is die ramshorings ook gehoor.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig met nog foto’s:

Duisende stap Kruistog deur Vredefort se strate

Related Articles

Back to top button