Local newsNews

Fietsryer van sy fiets afgery na kombi hom op Paryspad tref

'n Potchefstroomse fietsryer, Sias le Roux, het erge beserings opgedoen toe 'n kombi hom glo aspris raakgery het.

Menseregtedag het Donderdag, 21 Maart vir ‘n Potchefstroomse fietsryer nie op ‘n goeie noot begin toe ‘n wit kombi hom van agter getref het. Hy het ernstige beserings opgedoen.

Sias le Roux (53) het ‘n noue ontkoming gehad tydens dié ongeluk wat op die R53 (Paryspad), sowat 10 kilometer vanaf Potchefstroom, plaasgevind het. Hy noem dat hy nadat die kombi hom gestamp het, van sy fiets op die gruis geval het en dat hy dood kon gewees het.

Hy het erge skaaf- en kneusplekke op sy rug, sy en regterarm opgedoen, steke in sy heup gekry, maar het gelukkig nie ‘n been in sy lyf gebreek nie. Die voorval het omstreeks 11:30 plaasgevind.

Volgens Le Roux het die bestuurder van die kombi in die teenoorgestelde rigting gery en op hom en sy groep van sowat sewe fietsryers afgepeil. Dit terwyl die bestuurder besig was om ‘n vragmotor op ‘n relatiewe smal stuk pad verby te steek.

Sias le Roux se lyf was vol skaafmerke en wonde.

“’n Paar fietsryers in ons groep was ongelukkig oor die gevaarlike bestuurder wat ons net-net gemis het en toe swetstekens in sy rigting gewys het,” noem Le Roux.

Hy vertel verder dat die groep toe in enkelgelid aangehou het om te ry, maar hy kort daarna gesien het dat die kombi omgedraai het. Le Roux glo ook dat die bestuurder hom met opset raakgery het.

“Ek was heel agter in die groep en die kombi het my getref toe hy terugdraai en in ons rigting ry. Hy het weggery nadat hy my getref het.”

Le Roux het vol adrenalien sy vrou, Christa Rautenbach, gebel om hom en sy beskadigde fiets te kom haal sodat hy ‘n klag by die polisie kan lê.

Die skaafplekke aan Sias se skouer en ‘n deel van sy arm.
Bloukolle en kneusplekke wat Sias opgedoen het. Sias het geen bene in die ongeluk gebreek nie.

“Ek is eers daarna na Mediclinic Potchefstroom toe vir my beserings. Hulle het my baie mooi en professioneel gehelp,” noem hy. Le Roux vertel dat kringtelevisiekameras in die area die voorval vasgevang het. Sodoende kon die polisie die bestuurder opspoor en in hegtenis neem.

“Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die bestuurder na my kant toe swaai voordat hy my tref en wegry. Sulke gedrag stel ons lewens in gevaar,” sê Le Roux.

Hy is tans voorsitter van Noordwes Fietsry en deel van die uitvoerende komitee van Fietsry Suid-Afrika.

Hy herstel tans van sy beserings en was nog nie terug by die werk nie. Hy is ‘n Geologie departementshoof by Kusasalethu Goudmyn naby Carletonville.

Volgens NW polisiewoordvoerder, brig. Sabata Mokgwabone, is die persoon wat die kombi bestuur het, in hegtenis geneem en het Maandag, 25 Maart in die landdroshof in Potchefstroom verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur.

“Die verdagte sal weer op 2 April in die hof verskyn,” noem Mokgwabone.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-news/2024/03/27/fietsryer-van-sy-fiets-afgery-na-kombi-hom-op-paryspad-tref/?fbclid=IwAR17l9ml8lys6j1R2AoZ-BvyYEefR_6qQknTBBoIDvgHsh3d21ypMmGHFVw_aem_AUJY9kMAX3yMc9ae-xZCBuU-Pt4ZHJonv3Nju8Y97ZtK4r2Fr50P_aA5wK811zc8YJzzE_80mjdE8Ux8WHuG-nwO

Related Articles

Back to top button