Local newsNews

Huldeblyk: Mariske de Beer

Kollegas onthou die borrelende onderwyser en oud-leerder van Hoërskool Fochville wat onverwags die afgelope vakansie oorlede is.

Sewe jaar gelede het me. Mariske de Beer by die Blougolf van Hoërskool Fochville aangesluit.

Maar dis nie waar haar paadjie by dié skool begin het nie. Sy is ook ‘n oud-Fochie wat aan Hoërskool Fochville gematrikuleer het.

Van haar ouer kollegas het dus al ‘n lang pad saam met dié borrelende juffrou gestap en selfs ook vir haar skoolgehou. Later, as leerkrag by haar alma mater, gooi sy haar gewig voluit in alles wat sy doen.

Me. De Beer was by baie aktiwiteite betrokke, waaronder hokkie, die Afrikaanse spreekkoor, Juniorraad asook die VLR-voog, maar steeds was dit nooit vir haar moeite om met nóg iets te help nie. Op 6 Januarie verpletter die verskriklike nuus van me. De Beer se afsterwe die Fochville-gemeenskap.

Die leerders ouers en ander inwoners wat haar geken het, het blomme by Hoërskool Fochville se heining gaan neersit uit meegevoel met me. De Beer se gesin en familie.

Oral op sosiale media het huldeblyke aan dié formidabele juffrou ingestroom. Volgens haar kollegas sal me. De Beer veral onthou word vir haar uitsonderlike glimlag wat jóú sommer ook wou laat glimlag. In eksamentye was sý die een met die heerlikste koekies by wie jy kon gaan bedel tussen die merkery deur.

As ‘n personeellid met iets op hulle rekenaar of die internet gesukkel het, was sy gou daar om jou uit jou ellende te verlos.

Altyd met haar kenmerkende glimlag. Haar aansteeklike lag en liefde vir haar leerders staan ook uit.

Me. De Beer se stoel in die personeelkamer is leeg, maar dis veel meer as dit. Sy laat ‘n leemte in ons harte en in ons skool wat nie gevul kan word nie.

Ons wens haar geliefdes sterkte toe en bid God se troos oor julle af.

Die geliefde me. Mariske de Beer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button