Local newsNews

SAVF Fochville Aftreeoord word geseën in Kerstyd

Dit is Kerstyd en vir baie van ons 'n tydperk van samesyn en vrede, maar vir ander 'n tydperk van eensaamheid, armoede en swaarkry. 

Wanneer mense in hierdie tyd hulle harte en hande oopmaak, gee hulle weer hoop aan die wat swaarkry.

Op Woensdag 13 Desember het vier huisgesinne van SAVF Fochville Aftreeoord die liefde in hulle harte sigbaar gemaak deur geskenke te oorhandig aan die inwoners en werkers om hulle.

Onder leiding van Jan en Annette Badenhorst, het Naudé en Petro van Zyl, Steph en Ronel Wall en Tom Broekman geldelike bydraes geskenk asook borge verkry om hierdie skenking moontlik te maak.

Kontant geskenkbewyse (wat verskaf is deur hierdie vier gesinne) is aan me Lynette Eybers en haar hele bestuurspan oorhandig.

Kruideniersgeskenkpakke, geborg deur deur die gesinne en ‘n privaat besigheid,is aan alle gesondheidswerkers,skoonmakers, kombuispersoneel en terreinwerkers uitgedeel.

Geskenkpakke is aan elke inwoner van die versorgingseenheid (Huis Uitsig) asook aan elke inwoner van Ons Tuiste uitgedeel. Hierdie geskenkpakke is moontlik gemaak deur die bestuurder van ‘n tak van ‘n nasionale apteek groothandelgroep asook ander sakelui.

Volgens mnr. Jan Badenhorst wil hulle met hierdie gebaar hul dank aan die bestuur en elke werker vir hul onbaatsugtige diens aan die inwoners van die aftree-oord betuig.Hulle wou ook hiermee aan die inwoners van die versorgingseenheid hul liefde en omgee in die gees van Kersfees wys.
Hy het bygevoeg dat dit hul strewe is om nog huisgesinne wat in die oord woon asook ander mense in ons gemeenskap by hierdie projek betrokke te kry.

Dit sal hulle in staat stel om nog ruimer te gee. Hy het ook die hoop uitgespreek dat hulle in 2024 donasies van die plaaslike besighede sal ontvang.

“Aan elkeen van hierdie inwoners wat die inisiatief geneem het, asook elkeen van die genoemde borge,wil die bestuur, werkers en inwoners van SAVF Fochville Aftreeoord hulle opregte waardering en dankie rig. Dankie vir julle groot harte, liefde en omgee. Die verandering wat ek en jy so graag in die wêreld wil sien, begin by elkeen van ons. As die gemeenskap van Fochville hande vat soos wat hierdie gesinne gedoen het, verander ons die lewens van dié wat hoop verloor het,” sê me. Elize Olivier.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button