News

Drie honde deur swerm bye doodgesteek

Twee gesinne in Potchefstroom is hartgebroke nadat ‘n swerm bye op hulle honde in Wynnestraat, Bailliepark toegesak het en hul weens die bygif oorlede is.

Twee gesinne is hartgebroke nadat ‘n swerm bye op hulle honde in Wynnestraat, Bailliepark toegesak het. Dié twee honde is weens die bygif oorlede.

Elizna en dr. Waldo Rossouw se twee honde, Olyf, ‘n Boston Terrier, en Lexi, ‘n Duitse Herdershond is albei deur honderde bye gesteek en het nie die aanval oorleef nie.

Twee van hul buurvrou, Ciska Viljoen, se honde is ook gesteek. Cara, ‘n swart Labrador, is oorlede ‘n paar dae na die voorval nadat haar niere nie die gifstowwe kon hanteer nie. Haar ander hond, Lizzy, het die aanval wonderbaarlik oorleef.

Hierdie voorval het op Saterdagmiddag (18 November) plaasgevind. Elizna en dr. Waldo was nie by die huis ten tyde van die aanval nie.

Ciska het vir Elizna geskakel en vertel dat hulle honde gesteek is. Elizna en dr. Waldo, wat ‘n veearts van beroep is, het toe inderhaas Potch toe teruggekeer om hul honde te help. Elizna het solank dr Waldo se kollega aan diens by Potch Centraal Veearts, Dr. Salmonique van Doorn, gekontak om sy honde te help.

Elizna het terselfdertyd vir Werner van Onselen gekontak om die honde te gaan help. Werner en sy broer, Edrich, het toe toestemming van hul buurman gekry om oor die muur te spring en die honde oor die muur na veiligheid te neem. In die proses is Werner en Erich ook deur die swerm bye gesteek, terwyl hulle die honde met ‘n tuinslang natgespuit het en die angels uitgehaal het.

“Ons is erg gesteek, maar as diereliefhebbers het ons op daardie stadium op die honde se welstand gefokus. Dit is hartseer dat die honde dit nie gemaak het nie,” vertel Werner.

Dr. Van Doorn het ‘n kort ruk daarna ook opgedaag om ‘n drip in die honde te plaas en onder andere  kortisoonmedikasie te verskaf.

“Olyf het honderde steke gehad en regtig erg gelyk. Hul kon nie meer vir haar by die praktyk doen nie. Haar hart het net gaan staan” vertel dr Waldo.
“Lexi is van Saterdag aand af heeltyd op ‘n drip met die hoop om haar akute nierskade te herstel. Weens die enorme hoeveelheid gif en orgaanskade is sy Maandagoggend oorlede. Dit is vir ons baie sleg,” noem Waldo.
“Ek was net betyds terug daardie Saterdag om vir Olyf te kon groet. Hierdie was soos ons kinders en het ‘n baie spesiale plek in ons harte. Olyf het ook net drie bene gehad, maar rondgehardloop asof sy vier het,” sê Elizna.

Ciska noem dat haar afgestorwe Labrador, Cara die “ou lady” in die huis was en nog gesond was, al was sy blind.
“Die bye het ons honde verwoed gesteek. Die swerm bye was soos iets wat ‘n mens in jou nagmerries kry. Ek het my veearts (Dr. Sameer Abbas van Spruit Dierekliniek) gebel en my honde na hom geneem. Hy kon nie vir Cara help nie, en ons moes haar daardie Maandag uitsit,” vertel Ciska hartseer.

“Lizzy het dit oorleef, dalk omdat sy sterk gene het. Sy is ‘n straatbrak met so iets van als in haar. Die bye was nog tot Donderdag (23 November) in die omgewing. Ek is nog skrikkerig, want mens weet nie of daar nog bye in die omgewing is nie.”
Die Rossouw’s moedig troeteldiereienaars aan om voorsorg te tref in so geval en so gou as moontlik mediese hulp vir diere gekry wat deur bye gesteek is.
“Antihistamien-medikasie kan gegee word en skakel jou veearts so gou moontlik. Dit is belangrik om so gou as moontlik mediese hulp te kry,” verduidelik dr Waldo.

Drie honde deur swerm bye doodgesteek

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button