News

Die hart van ‘n labrador met die gesig van ‘n pitbull

American Bullies is vir Ruan Diedericks en sy gesin ‘n groot passie vandat hy die eerste keer met hierdie honderas kennis gemaak het en 'n teef, Siren, deel van sy lewe gemaak het.

Wat kry ‘n mens as jy die innerlike vriendelikheid van ‘n labrador meng met die uiterlike bou van ‘n pitbull?

Die antwoord is die American Bully – ‘n relatiewe nuwe honderas wat vir die eerste keer in 2012 hul verskyning in Suid-Afrika gemaak het.

Met al die negatiewe publisiteit rakende Pitbull honde wat mense aanval en in erge gevalle doodbyt, is daar ‘n persepsie dat enige groot hond, en veral een wat soos ‘n Pitbull lyk, net gevaar spel.

Volgens Ruan Diedericks, ‘n hondeteler en eienaar van NW Bullies in Potchefstroom, is die American Bully juis die honderas wat hierdie stereotipe breek.

Ruan Diedericks en sy gesin stap met Tobias, ‘n American Bully.

Die persepsie van baie mense is dat groot honde gevaar inhou. Dit is glad nie die geval nie en as mense eers hier kom en in aanraking met die honde kom sien hul, hoe vriendelik en lojaal hulle is,” vertel Diedericks.

American Bullies is vir Diedericks ‘n groot passie vandat hy die eerste keer met hierdie honderas kennis gemaak het en ‘n teef, Siren, deel van sy lewe gemaak het.

Siren is geïnsimineer by dr. Kurt de Cramer by Rant-en-Dal Dierehospitaal nadat Diedericks ‘n aansienlike prys vir een van die land se gesogte American Bully reuns, Kobrakai, van Exclusive Bullies in Durban, se sperm betaal het.

Regs: Daar is tans sowat 8 American Bully
babahondjies op die perseel van NW Bullies

So is 13 klein hondjies gebore en kon Diedericks sy passie voortleef om kwaliteit American Bully’s in Noordwes te teel.

“Baie mense regoor die land het deur die jare American Bully’s by my vir ‘n verskeidenheid redes soos spoorsny sowel as om hul eienaars met emosionele terapie te help gekoop,” vertel Diedericks.

Hierdie honderas kom nie net in een grootte nie, met mikro, pocket, ekstra groot en dubbel ekstra groottes, onder meer.

Die
American Bully kom in verskillende
groottes en kleure voor.

“Die pocket grootte is ook baie gewild, omdat dit ‘n hond is wat nie noodwendig groot spasies nodig het nie, maar steeds die geaardheid van hierdie lieflike honde het. American Bullies is soos ‘n sagte reus. Groot buite, maar saggeaard binne,” noem hy.

Diedericks het onlangs Potchefstroom toe vanaf Koster getrek en het die afgelope maand daarin geslaag om ‘n stuk grond in MC Roodelaan vir sy honde in kampe gereed te maak. Die kampe is met elektriese drade toegespan, terwyl seile ook gespan is om te verseker dat rondloper honde nie per ongeluk in die kampe beland nie.

Daar is ook 24/7 sekuriteitkameras vir veiligheid.

Diedericks noem dat hy nie konvensionele hondepille vir sy diere voer nie en net rou vleis, groente, beenmeel en ander natuurlike produkte gee.

“Vir my gaan dit oor kwaliteit en die beste vir die diere. Op die ou einde is dit definitief die bloed, sweet en trane werd,” vertel hy terwyl hy oor een van sy American Bullies, Tobbias, se rug vryf.

Hierdie honde kom in allerlei kleure voor, en het ‘n lewensduur van ongeveer 10-13 jaar. Daar is tans 18 honde (waarvan 10 klein hondjies is) by NW Bullies.

“Wanneer ons honde teel word daar ‘n proses ondergaan en ek doen deeglik navorsing oor die familiegeskiedenis, gesondheid, en temperament,” noem hy verder.

Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) was ook al twee keer op Diedericks se perseel om inspeksie in te stel en seker te maak dat die honde gesond is en regulasies gevolg word. PAWS ondersteun wel nie hondeteling as bedryf nie.

“Ons wil mense nooi om self te kom kyk na ons honde en hulle persepsie te verander. Ons beoog ook om in die toekoms vir die publiek opedae te reël. Hulle sal dan sien dat American Bullies aandagvrate is en ook baie nuuskierig is,” glimlag hy.

Ruan Diedericks, eienaar van NW
Bullies, saam met sy vrou, Sinelle, en
hul kinders, Silja, Ri-Jan en getroue
American Bully, Tobbias. Foto: Wouter Pienaar.

Buiten honde wat Ruan-hul self teel, het hul ook honde aangeneem as deel van hulle familie.

“Dit is vir ons belangrik om honde ‘n tweede kans te gee. Ons maak ook seker dat ons honde (as hul gekoop word) goed versorg word. Ons maak seker ons honde het goeie huise en word goed versorg. Ons loer gereeld in om seker te maak dat ons honde gelukkig in hul nuwe huise is.”

“Hul bly altyd familie.”

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2023/11/25/die-hart-van-n-labrador-met-die-gesig-van-n-pitbull/?fbclid=IwAR29TkWzeMZJwMV-KYjltVAE_cUv36ux8PMfAWvcta4lwZVriMfURVhMUm8

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button