Local newsSport

Fochville Stoeiklub bring medaljes terug

Adele Louw Fochville Stoeiklub het tydens die afgelope skoolvakansie uitstekend tydens die sport se nasionale kampioenskappe presteer.

Adele Louw

Fochville Stoeiklub het tydens die afgelope skoolvakansie uitstekend tydens die sport se nasionale kampioenskappe presteer.

Volgens dié klub se afrigter, Andre Smith, het vier van die agt stoeiers wat aan die SA’s deelgeneem het, met medaljes teruggekom.

“Ons het net weer bewys dat Fochville genoeg talent het om teen die bestes in die land mee te ding,” sê Smith.

Marchelle Strydom het die klub se naam hoog gehou toe hy reeds vroeër die jaar by die senior SA’s ‘n eerste plek in die o.20 Greco Roman en ‘n tweede plek in die Vrystyl gewen het.

Nóg ‘n klublid, Liam Vorster, het by die Presidente SA’s die eerste plek in die o.10 afdeling gewen.

Verskeie jonger stoeiers het ook tydens hul nasionale kompetisie presteer.

Dre Smith het die tweede plek in die o.10 afdeling ingepalm.

Ashton Delport het ‘n derde plek in die o.9 afdeling gewen, terwyl Morne du Plessis en Miecke du Plessis onderskeidelik derde plekke in die o.13 en o.11 afdeling ingepalm het.

Zander van Staden het die vierde plek in die o.9 en Bendrey van Staden die vyfde plek in die o.10 afdeling behaal.

Andrigh Nortje het die negende plek in die o.10 afdeling behaal.

Volgens Smith het die klub deur die loop van die afgelope seisoen altesaam 82 medaljes in verskeie toernooie gewen.

“Ons sterkpunt in die klub is ons ouers se betrokkenheid. Die ouers het 100% ingekoop op wat ons doen.

“Ons is gelukkig om vir Gert Strydom, Noordwes se hoofafrigter, in die klub te hê. Hy het vir my en Dricus Nortje opgelei tot op ‘n vlak van akkreditasie dat ons net uit ons klub drie provinsiale afrigters het.

“Ons is ook in die proses om vier ander afrigters op te lei wat in die toekoms baie waarde tot ons klub gaan toevoeg,” sê Smith.

Hy voeg by dat Fochville ‘n uitestekende verhouding met die Ratels Klub in Carletonville het.

“Elke nou en dan hou ons klinieke saam en deel ons kennis. Johnny Rudolph van die Ratels is ‘n fantasiese afrigter,” sê Smith.

Fochville Stoeiklub is nou reeds tydens die sport se af-seisoen besig om vir volgende jaar voor te berei.

“As die stoei gogga jou eers gebyt het is dit ‘tickets’, lag hy.

Indien daar seuns of meisies is wat graag meer oor stoei wil leer, kan hulle vir Smith by 074 892 5025 kontak.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button