Local newsNews

Nuwe kans vir hondjie wat uit kanaal gered is

“Hy het eintlik klaar gelewe, net sy hart hou hom aan die gang.” Dit was my eerste gedagte toe ek in Poncho se oë ingekyk het. So vertel Cornelia Hitge hoe sy Sondag, 13 Augustus, 'n hondjie gered het wat in 'n kanaal vasgesit het.

“Hy het eintlik klaar gelewe, net sy hart hou hom aan die gang.”

Dit was my eerste gedagte toe ek in Poncho se oë ingekyk het.

Poncho is ‘n verwaarloosde hond wat ek op Sondag saam met Tokkie Aucamp, ‘n PAWS-inspekteur, gered het. Die hond was Sondag, 13 Augustus in die Paryslaan-kanaal gevind.

Poncho in die Paryslaan-kanaal voordat hy gered is. Foto: Verskaf.

Darno Kershoff, wat langs die kanaal bly, het in die Kershoff-gesin se kombuis gestaan en gesien hoe hul honde draad toe storm en begin blaf.

Ek het saam met Darno teruggeloop na die kanaal toe, en gesien dat die hond amper onder die pad ingeloop het. Ek was bang dat die hond daar gaan inloop en vassit, en het self in die kanaal ingeklim. Die hond het ‘n paar tree in my rigting gegee, maar ek kon sien dat hy lewensmoeg is.

My vriendin, Surina Kershoff, het by Darno kom staan en my uit die kanaal uit gehelp. Ek en Surina het stadig nader aan die hond begin beweeg. Toe ons naby die hond was, het ek weer in die kanaal ingeklim. Ons het besluit om by hom te staan tot PAWS opdaag.

Ek kon in die hond se oë en lyftaal sien dat hy lankal opgegee het. Ons het met hom gesels, en ek het stadig maar seker al nader beweeg. Toe Tokkie opdaag het ek my hand na die hond uitgesteek, en na ‘n oomblik oor sy kop, nek, en bors begin streel. Die hond het nie beweeg of enige aggressie getoon nie. Ek het sy bolyf opgetel en vir Tokkie, wat op die kanaal se rand gesit het, aangegee. Surina het met hom gepraat en sy kop gestreel terwyl ek die res van sy lyf uit die kanaal gelig het. Daarna het Tokkie en Surina hom in PAWS se bakkie gaan laai.

Ek het die volgende dag, 14 Augustus vir die hond gaan kuier.

“Ons gaan hom Poncho noem,” sê Tokkie terwyl sy vir hom nog kos gee. “Hy was baie honger.”

Poncho swaai sy stert en kyk met oë vol liefde vir Tokkie. Hy glimlag vriendelik vir my en snuif tussendeur aan sy korrels. Poncho het nog ‘n lang pad na herstel oor, maar sy tweede kans het reeds begin.

Daar is baie honde wat ‘n liefdevolle huis nodig het

Ek het grootgeword met die “Adopt-Don’t-Shop” prinsiep, en het dit met Theo Koekemoer van PAWS gaan bespreek.

“Mens kan eerder ‘n hond aanneem voor jy een by ‘n teler gaan koop,” sê Theo. “Dit beteken soveel meer om vir ‘n hond ‘n nuwe lewe te kan gee.” Theo sê verder dat mense verkeerd na kruisings kyk. “Crossbreeds het baie mooi persoonlikhede. Hulle is baie vriendelik, en baie lief.”

Indien jy iemand is wat graag ‘n kleinhondjie sal wil aanneem, sal PAWS jou kan help.

“Ons het op die oomblik ‘n werpsel,” sê Theo, “pragtige kleintjies, ons kry volgende week nog een.” Theo sê egter dat dit soms makliker is om ‘n hond wat al een of twee jaar oud is aan te neem. “Ouer honde is al meer gevestig. Klein hondjies het baie, baie aandag nodig, anders word hulle met die verkeerde fondasie groot.”

As toekomstige honde-eienaar is dit belangrik dat jy die nodige navorsing doen om te verseker dat jy die kapasiteit, kapitaal, en toewyding het om ‘n hond te kan aanneem of koop.

“Dis nie ‘n korttermyn commitment nie,” sê Theo, “daar is honde wat tot op 15 jaar leef.”

Theo verduidelik verder dat honde soos kinders is. Jy moet vir die hond ‘n warm slaapplek, genoeg kos, water, ‘n plek in die skaduwee, en baie aandag en liefde gee. Verder moet jy gaan kyk na die erf wat jy het, en ‘n hond kry wat in die omgewing en spasie sal inpas.

Indien jy iemand is wat nie ‘n hond kan aanneem nie, maar graag PAWS wil ondersteun, is daar vele maniere hoe jy kan help.

  • Jy kan iemand wat ‘n hond wil aanneem maar nie die aannemingskoste kan betaal nie borg.
  • Jy kan geldelike donasies aan PAWS skenk, sowel as kos en komberse.
  • Potchefstromers word gevra om met die honde te kom stap. Dit help om “kennel fever” te verhoed, en dit gee die honde kans om hul bene te rek.
  • Theo vra dat mense, indien moontlik, hul eie leibande sal bring wanneer hul met honde kom stap.

https://potchefstroomherald.co.za/129788/nuwe-kans-vir-hondjie-wat-uit-kanaal-gered-is/?fbclid=IwAR3T6hwpoD7JBvO0SU-60YrCHyh-g_tpyynnIOX9Ht10cUbGLbKUvOBL0xk

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button