Local newsNews

‘Reguit’ ogies is al wat Luan vir sy verjaardag vra

"Dit sal sy grootste verjaardaggeskenk ooit wees as ons die operasie teen 2 Augustus kan laat doen," sê sy ma.

Kort na die geboorte van klein Luan van der Linde op 2 Augustus 2018 in die Vereeniging-Kopanong Hospitaal, was dit opvallend dat albei sy ogies skeel trek. Sy ouers, Johannes en Simone van der Linde van Rothdene, Meyerton, het gehoop dit sou mettertyd vanself regkom maar vandag, byna vyf jaar later, word dit net méér opsigtelik.

Hoewel Luan van der Linde ‘n vrolike klein seuntjie is, word hy gereeld by sy kleuterskool deur ander kleingoed oor sy skeel ogies gespot.

Luan is nou ‘n aktiewe kleutertjie en in Graad RR in ‘n plaaslike kleuterskool. Hoewel hy dit geniet om tussen maatjies te wees, word hy gereeld geniepsig deur ander kleingoed oor sy oë gespot. Sy grootste wens is om “reguit ogies” soos ander kinders te kan hê.
Johannes en Simone het nie ‘n mediese fonds nie en probeer al jare om ‘n regstellende operasie vir hul seuntjie by ‘n staatsinstelling te reël, maar tot dusver was al hul pogings vergeefs. Danksy dr. Kobus Fourie, oogspesialis by Visiclin Day Clinic in Vereeniging, is daar nou ‘n moontlikheid dat sy ogies in ‘n private praktyk herstel kan word. Luan se ouers het egter net ‘n maand om die R29 191 wat dit gaan kos, in te samel.
“Die dokter het verlede jaar vir hom ‘n bril voorgeskryf met die hoop dat dit sy ogies sou regtrek, maar nadat hy dit ses maande gedra het, is daar nog geen verbetering nie. Die enigste uitweg is ‘n operasie. Die dokter sê Luan se ogies sal nie 100% reggemaak kan word nie, maar dit sal na die operasie heelwat beter wees. Luan sien baie daarna uit en vra elke dag wanneer die operasie gedoen kan word. Dit sal sy grootste verjaardaggeskenk ooit wees as ons dit teen 2 Augustus kan laat doen,” sê sy ma.
Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan donasies inbetaal by Thyme Bank, rekeninghouer: JJ van der Linde, spaarrekening, rekeningnommer: 510 719 624 99, takkode 678 910. Die bewys van inbetaling in die kliniek- en doktersrekening sal op vesoek verskaf word.

Na ses maande wat Luan ‘n bril gedra het, is daar steeds geen verbetering nie.

‘Reguit’ ogies is al wat Luan vir sy verjaardag vra

Related Articles

Back to top button