Entertainment

Jan Rhaap belowe hy sal altyd daar wees vir sy kinders

Die musiekvideo, wat ook nou beskikbaar is, vang die kosbare verhouding tussen ’n pa en sy kinders vas deur te fokus op die alledaagse dinge wat hulle saam geniet.

Pa-wees verander hoe jy na die lewe kyk en vandat Jan Rhaap hierdie voorreg vir die eerste keer ervaar het, is dit sy lewensdoel om die beste ouer moontlik te wees.

In sy splinternuwe enkelsnit, PA STAAN VIR JOU, beloof hy sy kinders dat hy altyd daar sal wees vir hulle en hul sal beskerm en ondersteun.

“Ek het die liedjie geskryf voordat my vrou swanger was met ons tweede kind, ons dogtertjie. Ons wou baie graag ’n tweede kind hê,” deel hy. “Dit beteken ongelooflik baie vir my en ek is trots om elke dag te kan sê: “Ek sal  ‘Pa staan vir jou’, my kind.”

Hoewel dié pop-rocksnit, vervaardig deur Tertius Human, sterk lirieke en ’n ernstige boodskap het, het die ook ’n lekker opgewekte ritme waarop luisteraars kan dans.

Dit is in Pretoria en Nelspruit verfilm deur Quintessential Photo & Video Worx en sluit tonele met ’n volledige orkes in wat hom deur die lied begelei.

Kyk die video hier: https://youtu.be/JJx8xH_v4j8

Jan Rhaap, oftewel Werner Burger, met sy rasperstem en opgewekte musiek, vermaak gehore al vir meer as ’n dekade en is veral bekend vir treffers soos Huisie in die Bos, wat hy saam met Juan Boucher geskryf het en waarvan die video reeds meer as 5.4-miljoen kyke op YouTube gehad het, Jan Ek Kan Nie Dans Nie met meer as 2.5-miljoen kyke en Ramskilpad wat op verskeie treffersparades gepronk het en ook reeds deur meer as 1.8-miljoen mense gesien is. Die video van sy enkelsnit, Jagvat, is ook reeds meer as 760 000 gekyk.

Hy kom uit ’n baie musikale gesin en het oor die jare verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, waaronder Ghoema-benoemings vir Nuweling van die Jaar (2015) en Beste Alternatiewe Album van die Jaar (2017). Hy het pas ook saam met ander bekendes op die 2023-Bokboot gekuier.

PA STAAN VIR JOU is die derde vrystelling vanaf sy vyfde ateljee-album en die boodskap sal aanklank vind by oud en jonk.

“Dis werklik ’n pragtige liedjie en enige man wat die voorreg het om ’n pa genoem te word, sal daarmee kan vereenselwig,” sluit hy af.

Hierdie liedjie is die derde vrystelling vanaf sy kortspeelplaat (Jagvat) wat einde laasjaar uitgereik is.

Laai dit hier af: https://linktr.ee/janrhaap

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/janrhaap/

Instagram: @janrhaap

Twitter: @janrhaap

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button