Local newsNews

Potch skaaphond kry nuwe huisie by die see

Thys Carstens van Witsand in die Wes-Kaap, is Rex se nuwe eienaar en sedert hy Donderdag (15 Junie) gearriveer het pas hy baie goed aan en is volgens Carstens al “baas van die plaas”.

Rex, die Potchefstroomse skaaphond wat na ‘n nuwe huis opsoek was, na sy vorige eienaar oorlede is, het nou ‘n nuwe huisie by die see.

Thys Carstens van Witsand in die Wes-Kaap, is Rex se nuwe eienaar en sedert hy Donderdag (15 Junie) per vliegtuig vanaf Gauteng in George geland het, pas hy baie goed aan en is volgens Carstens al “baas van die plaas”.

“Hy is ‘n lieflike hond en ek glo ons gaan nog baie jare goeie herinneringe maak. Hy pas goed aan hier in Witsand en lê nou rustig hier in die huis,” vertel Carstens.

Rex was sedert einde April sonder ‘n eienaar na sy voormalige eienaar Nic Pieters (84) oorlede is. Rex was so getrou aan sy eerste eienaar dat hy nie afskeid van Pieters wou neem op sy sterfbed nie. Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) moes hand bysit om vir Rex van sy eienaar te skei terwyl ER24 nooddienste vir Pieters hospitaal toe geneem het. Pieters is later aan natuurlike oorsake oorlede.

Rex is toe na die Border Collie Rescue Sentrum in Centurion geneem sodat ‘n nuwe huis vir hom gekry word. Pieters se nabye familielede kon nie na Rex sorg nie en moes die moeilike besluit neem om ‘n nuwe tuiste vir hom te kry.

Rex, wat in April vanjaar van sy Potchefstroomse eienaar moes afskeid neem, pas al die afgelope paar dae baie goed aan in Witsand.

Carstens, ‘n voormalige boer wat nou afgetree is, was die gelukkige een wat nou Rex se liefde ervaar en dit is als te danke aan sy dogter, Michelle Potgieter, wat op die verhaal van Rex afgekom het.

“Ek is baie dankbaar ons kon vir Rex aanneem. Ek het twee skaaphonde gehad wat ‘n jaar gelede oorlede is. Dan is daar maar ‘n leemte wat mens het. Ons het gewik en geweeg wanneer ons ‘n hond weer sou kry en ons wou nie ‘n jong hond gehad het nie. Ons is alreeds in ons sestigs en wil graag ‘n hond hê wat by ons pas,” vertel Carstens.

Rex, wat in April vanjaar van sy Potchefstroomse eienaar moes afskeid neem, pas al die afgelope paar dae baie goed aan in Witsand.

Rex het nou ook drie katte in sy nuwe gesin waarmee hy moes kennis maak – Noenoes, Graatjie en Biscuit.

“Biscuit is nog afsydig en kyk dinge uit, maar Noenoes en Graatjie kom goed met Rex oor die weg. Rex het so mooi geaardheid en is baie mooi opgevoed,” verduidelik hy.

Rex geniet ook die strande van Witsand en het alreeds ‘n paar keer lekker oefening ingekry met die seelug wat oor sy swart en wit pels waai.

Rex het alreeds bewys dat hy tuis voel by sy nuwe huis wanneer hy vinnig vir almal laat weet as daar nuwe of vreemde mense by die hek is.

“Hy kan kwaai ook wees as hy wil, maar dis omdat hy graag sy mense beskerm. Hy wil net wys hy is baas.”

https://potchefstroomherald.co.za/127796/potch-skaaphond-kry-nuwe-huisie-by-die-see/?fbclid=IwAR3Uom8YwTkZQjAeu6FOyDEis-1fuKseCcZIRw-7ozG3rqjNXDnHh7QSGYk

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button