Local newsNews

Professor in hoësorgeenheid na hy slaggat met sy fiets tref

Weens die val het hy sy skouerbeen gebreek, sy bladbeen is in drie stukke terwyl sy sleutelbeen en borsbeen ook af is. Een van longe is ook deur een van sy sewe gebreekte ribbebene geperforeer.

Wat ‘n normale vroegoggend fietsrit vir Prof. Kobus van der Walt saam met sy fietsrygroep moes wees, het in ‘n nagmerrie verander toe hy met sy bergfiets ‘n slaggat tref en ernstig beseer is.

Van der Walt, ‘n professor by die fakulteit van natuurwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is tans by die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp in die hoësorgeenheid na hy veelvuldige beserings opgedoen het. Hy is ook geopereer waar sewe ribbes geheg moes word.

Foto’s: Verskaf

Weens die val met sy bergfiets het hy sy skouerbeen gebreek, sy bladbeen is in drie stukke terwyl sy sleutelbeen en borsbeen ook af is. Een van sy longe is ook deur ‘n gebreekte ribbebeen geperforeer. Sy borskas moes gewas word en nou is daar pype wat vog dreineer.

Toe hy die slaggat tref het hy omtrent drie meter in die lug oor sy fiets se handvatsels gevlieg. Met die landing het hy op sy linkerskouer geval. Sy fietsryhelm het ook baie skade opgedoen en hom van moontlike breinbeserings gered.

Die slaggat is ongeveer 7cm diep.

“My pa was in ongelooflike pyn. Hy het gesukkel om asem te haal. Gelukkig het hy in ‘n groep gery so almal kon hom vinnig help. Een van die fietsryers het hom met sy bakkie na my tannie toe geneem. Hy is met my tannie se kar na Potch Mediclinic se ongevalle geneem. Daar is x-strale geneem waar daar vasgestel is dat sy ribbes gebreek is. Hy was in soveel pyn dat hy gesukkel het om asem te haal en kon skaars opstaan,” vertel sy dogter, Lize Redelinghuis.

Daar is eers met ‘n MRI-skandering bevestig dat sy borsbeen ook gebreek is en hy het toe Vrydag en Saterdag in die intensiewe sorg eenheid van Mediclinic Potch spandeer.

“My pa is oorgeplaas na Anncron-Hospitaal waar hy geopereer is om sy ribbes te heg. Hy kry ook vir sewe ure gedurende die dag behandeling met ‘n ventilator vir sy longe. Ons hoop dat hy die einde van die week ontslaan sal word,” vertel Lize.

Prof Van der Walt en sy vrou, Ina. Prof. Van der Walt (NWU) is bekend vir sy kennis rondom omgewingssake.

Lize noem ook dat sy ‘n eis by die padongelukfonds gaan instel na haar pa se ongeluk.

“Dit is sleg dat dit met my pa moes gebeur. Die paaie is in n verskriklike toestand en sake kon baie erger vir my pa uitgedraai het. Daar moet ‘n bewustheid geskep word dat slaggate en gebrek aan instandhouding baie reperkussies het. My pa geniet die fietsry baie en dit hou hom fiks en gesond. Nou weens ‘n slaggat kan hy nie dit beoefen nie,” meen Lize.

Prof. Van der Walt se ongeluk is nie ‘n geisoleerde geval in Potchefstroom nie met talle fietsryers wat alreeds ook groot skade weens slaggate opgedoen het.

Frans van der Berg het op 5 Maart vanjaar ‘n slaggat in MC Roode-laan getref waar hy weens die val sy sleutelbeen en twee ribbes gebreek het sowel as sy enkelligament geskeur het.

“My fiets het ook baie skade gehad as gevolg van die val. Ek het reeds twee operasies gehad om die skouer en ligament te herstel,” noem Van der Berg.

Nog ‘n fietsryer, Louis Bouwer, het ongeveer twee weke gelede op die N12 naby die Modderdam afdraai ook ‘n slaggat getref, waarna hy halsoorkop oor sy handvatsels is. Sy fiets het skade opgedoen, terwyl hy ook ‘n blouoog gekry het.

“Dit het begin donker word en ek wou uitkyk vir trokke op die pad voordat ek weer op die teer kom. Dis toe dat ek die slaggat tref net so verby Alpha Fruit & Veg. My voorwiel het verdwyn en toe ek weer sien tref ek die grond. My helmet is ook heeltemal afgeskryf. My hemp was stukkend, my vingers ook en my nek is effens styf, maar dis omtrent dit. Ek is baie gelukkig want ek het direk op my kop geval. ’n Oom wat verbygery het, het my darem gehelp en ek kon toe weer terugry huistoe,” vertel hy.

Bouwer noem ook dat ‘n gebrek aan ordentlike gemerkte fietsrylane en die gras op die sypaadjies wat nie gesny word nie, dit moeilik maak vir fietsryers maak om veilig te ry.

“Ek moes al in die verlede bande verloor as gevolg dat daar bottelstukke en spykers in die gras weggesteek is. Omdat daar so baie slaggate in die paaie is, probeer motoriste ook om dit mis te ry en dan jaag hul naelskraap verby fietsryers. Mens hou jou asem op elke keer,” meen Bouwer.

 

Hierdie voorval laat ‘n mens net weer besef hoe gevaarlik die slaggate eintlik is. Lees die oorspronklike berig hier:

https://potchefstroomherald.co.za/127618/professor-in-hoesorgeenheid-na-hy-slaggat-met-sy-fiets-tref/?fbclid=IwAR1x1IfeyTRXBVW_hphiEt5yWi359GKfLxX9G7v4HfrzH3PNBT2DuBsY1b4

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button