Protesaksie ruk hand-uit in Fochville
Die protesaksie deur gemeenskapslede in Fochville is besig om hand-uit te ruk.
Die aksie het reeds Woensdag begin en lei daartoe dat inwoners van Fochville, Kokosi en Greenspark reeds vir drie dae nie krag het nie.
Vandag het leerders van al die skole in Kokosi hulle egter ook by die aksie aangesluit. Volgens verskeie inwoners van Kokosi en Fochville met wie die Herald sowat ‘n uur gelede op die toneel gepraat het, is dit juis hierdie leerders se betrokkenheid wat tot vandag se verhoging in geweld lei.
Hoewel lede van die polisie se openbare orde-eenheid op die toneel is en onder meer rookgranate gebruik om die skare uitmekaar te probeer jaag, blyk dit nie die nodige uitwerking te he nie.
Die betogers gooi ook voortdurend een van hierdie eenheid se pantservoertuie met klippe.
Daar is ook ander polisielede sowel as lede van die GPF en privaat sekuriteitsmaatskappy op die toneel.