Local newsNews

Voormalige offisier by korrektiewe dienste en kranige sportman oorlede

Voormalige offisier by korrektiewe dienste en kranige sportman oorlede

Een van Potchefstroom se bekendste inwoners en voormalige offisier met 43 jaar diens by Korrektiewe Dienste, Dries Grimbeek, is op die ouderdom van 65, oorlede.

Grimbeek is na ‘n siekbed op Dinsdag, 28 Maart in Mediclinic Potchefstroom oorlede.

Hy is een van min wat sy werksloopbaan by Potch Gevangenis begin het en ook op dieselfde stasie afgetree het. Weens meer as vier dekades by korrektiewe dienste, was hy ‘n bekende gesig en baie lojaal in sy beroep. Hy was ook hoof van instandhouding en veiligheid.

Buiten die diens wat hy in die werksplek gelewer het, was hy ‘n kranige sportman wat in rugby, krieket en korfbal uitgeblink het. Hy het talle wedstryde vir Potchefstroom Dorp in beide rugby (as slot) en krieket gespeel en ook vir Potch polisie op die rugbyveld uitgedraf. Hy was ook in die destydse Wes-Transvaalse Kortfbalspan opgeneem.

Grimbeek voltooi sy matriek in 1974 by Potchefstroom Gimnasium en sluit in 1975 by Potch Gevangenis as proefbewaarder aan. Hy het sy opleiding by John Vorster opleidingskollege in Kroonstad voltooi.

Dries Grimbeek in sy jonger jare. Hy was lojaal en uitnemend in sy beroep as offisier.

Sy seun, Zak, onthou sy pa as iemand wat altyd bereid was om te help en dat hy ‘n uitstekende leier was.

“Hy was altyd bereid om enige iemand te help. Hy het sy bes probeer om iemand wat op parool vrygelaat word te help om werk en ‘n heenkome te soek. Hy het leiding geneem,” noem hy.

Grimbeek het in Oktober 2017 op pensioen gegaan.

Dries Grimbeek was ook ‘n kranige sportman. Hier speel hy vir Wes-Transvaal korfbal. Foto’s: Verskaf.

Hierdie talentvolle rugbyman was ‘n groot Westelike Provinsie ondersteuner en het die span met passie gevolg.

Zak bedank graag Mosaic Begrafnisdienste vir hulle fantastiese diens.

Grimbeek se roudiens is op Donderdag, 6 April om 11:00 by die Nederduits Hervormde Kerk Die Wilge in Waterbokstraat 8.

Grimbeek laat laat sy vrou Jeanette, dogter Laurizel en seun Zak agter.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button