Local newsNews

Vinkie Read (6) goed op dreef na breinbesering

Goeie nuus - dit gaan goed met Laerskool Vaalrivier se hoof, Henro Read en sy gesin na verlede jaar se ernstige motorongeluk.

In April 2022 was Laerskool Vaalrivier se skoolhoof, Henro Read en sy gesin in ‘n ernstige motorongeluk.

“Ons wou net gaan voerplek maak vir die manne se visvang die volgende oggend. Ek het nog gesê ons sal seker binne ‘n halfuur tuis wees,” onthou Henro daardie aand.

‘n Bakkie het hul egter op ‘n kruising in ‘n draai getref en binne sekondes het alles verander.

Die hele gesin is in die ongeluk beseer met Henro se vrou, Karen en hul oudste seun, Juan wat in intensiewe eenhede opgeneem is.

Hul jongste Sion het net ‘n ligte haarfraktuur gehad en Henro het sy rug seergemaak.

Dit was egter hul middelste seun, Handre ook bekend as Vinkie, wat die slegste daarvan afgekom het.

Hy is met ernstige kobeserings na ‘n hospitaal in Alberton geneem waar hy operasies ondergaan het en vir lank onder sedasie gehou is.

In daardie tyd het Vaaldriehoekers saam met die Reads gebid vir Vinkie se herstel. Vir die volgende paar weke het sy lewe aan ‘n draadjie gehang.

Uiteindelik het die goeie nuus deurgekom, Sondag, 15 Mei 2022, Vinkie het self begin asemhaal en is van die ventilator afgehaal.

‘n Paar dae later het hy almal verras toe hy met die fisioterapeut se hulp regop gesit het en later selfs ‘n paar tree saam met die fisio geloop het.

Vinkie het sy 6de verjaardag in die hospitaal gevier. Foto: verskaf

13 Junie het hy sy sesde verjaardag in die hospitaal gevier. Sy familie kon die dag saam met hom spandeer en van oral oor het Vaaldriehoekers in geel geklee vir die dag foto’s en boodskappe gestuur.

Hy is uiteindelik op 1 Julie ontslaan nadat hy ook ‘n tyd in ‘n rehabilitasiesentrum moes deurbring.

Vaalweekblad het 11 maande na die ongeluk by die Reads gaan inloer. Dit gaan goed met almal, hoewel Henro nog sedert die ongeluk met sy rug sukkel. Hy gaan eersdaags ‘n spesialis in Bloemfontein sien.

Vinkie kon Januarie vir die eerste keer weer skool toe gaan en is nou in gr. R by Vaalpark Primêr. Hy geniet dit baie om weer tussen sy maatjies te wees en het ook nou by die skool met pottebakkeryklasse begin.

Hy gaan steeds weekliks vir fisio- en arbeidsterapie, maar dit gaan al stukke beter en hy en klein Sion hardloop en stoei soos in die ou dae.

Karen sê Vinkie se regterhand en linkervoet sukkel nog, maar hy het intussen geleer om sy linkerhand baie meer te gebruik.

Vinkie saam met sy pa, Henro kort nadat hy in 2022 uit die hospitaal ontslaan is. Foto: verskaf

Hy verstom almal steeds, want medici het gesê hy sal nooit weer kan touspring nie, maar hy het hul reeds verkeerd bewys en dit einde Januarie weer reggekry.

Handre het hom nog nooit deur enige iets laat onderkry nie. Hy is met klompvoetjies gebore en het ‘n groot gedeelte van sy eerste vier en ‘n half jaar in gips deurgebring.

‘n Jaar later het hy die breinbesing opgedoen. Steeds gaan hy vrolik voort en is sy glimlag altyd gereed om te voorskyn te kom saam met die vonkel in sy oë.

Alhoewel Vinkie al moeg is vir terapie, vorder hy fluks en sien hy baie uit na sy verjaardag in Junie.

Hy het reeds gesê hy wil ‘n springkasteel vir die dag hê. Nadat hy verlede jaar so lank moes stil lê, is ons saam met die Reads dankbaar dat Vinkie weer kan spring, hardloop en saam met sy boeties onnutsighede kan aanvang.

Vinkie Read (6) goed op dreef na breinbesering

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button