Local newsNews

Gewasse in beseerde sangeres se keel ontdek

Bees se stamp was dalk 'n bedekte seën.

‘n Verdwaalde bees die Vanderbijlparkse sangeres, Bianca Pretorius, vroeër die maand voor haar woning in Ameshofstraat onderstebo gestamp het. Bianca het ‘n slegte besering aan haar buik opgedoen en al die ligamente in haar linkervoet en enkel is geskeur.
Bianca het vroeër vandag aan Vaalweekblad gesê die besering in haar ingewande is beter  maar haar voet herstel nog stadig en sy dra steeds ‘n “moon boot”. Maar sy sê sy gaan beslis op 4 April vanjaar se Afri-Indie Awards bywoon – “moon boot” en al!
Dit blyk verder dat die bees se “aanval” dalk ‘n bedekte seën was... Danksy deeglike mediese ondersoeke wat na die voorval gedoen is, is gewasse in Bianca se keel ontdek, wat moontlik kwaadaardig is en verwyder sal moet word. Sy gaan op 6 April hoor of dit wel kwaadaardig is en wat die verdere behandelingsmoontlikhede is.
“As dit nie vir die bees was nie, sou die gewasse waarskynlik nie betyds opgespoor gewees het nie,” sê sy.

Bianca se sesde enkelsnit, “Kan ek jou vashou?”, is onlangs vrygestel. Lees musiekkenner Lydia Winchester se resensie hier onder…

“Verlore liefde is ’n onderwerp wat selde bespreek, maar dikwels ervaar word,” vertel die mooi donkerkopsangeres van Vanderbijlpark, Bianca Pretorius, oor haar nuutste enkelsnit, Kan ek jou vashou? wat onlangs op radiostasies landswyd uitgereik is.

Dit is Bianca, wat so vars en uniek is soos ’n veldblom wat net iewers haar kop in die natuur uitgesteek het, se sesde enkelsnit.

En met dié snit, wat spesiaal deur Vincent Gordon vir haar geskryf, opgeneem en vervaardig is, bewys sy dat sy nie hoef terug te staan vir enigiemand in die Afrikaanse musiekbedryf nie.  Sy is baie bedrywig op ons land se verhoë en haar ondersteuners beskryf haar vertonings as energiek en lewendig.

Bianca, wie se stem so tussen Riana Nel  se donkerhout note  en Elizma Theron se vonkelwynsopraan dans,  is al amper twee dekades besig met haar musiekdinge. Sy het gedurende haar skooljare al begin sing. Terwyl ander talentvolle sangeresse besluit om maar eerder hul stemme by die kerk te oefen, het sy haar stem duidelik laat hoor en nie opgehou om haar passie ten volle uit te leef nie.

Vir haar is stemoefeninge net so belangrik soos ’n harde oefensessie in die gimnasium. Dit is ook die rede waarom sy haar stem en talent by die sangeres Rea le Roux slyp.

Haar uithouvermoë, lang ure in die ateljee en nog langer ure op die verhoë het vrugte afgewerp, want sy is verlede jaar vir ’n South African Country Music Award én ’n Afri-Indie Musiektoekenning as beste nuweling genomineer.

Bianca het sowat twee jaar gelede haar debuutalbum, Net een keer, uitgereik. Dié album, wat bestaan uit haar eie oorspronklike skeppings, is uitstekend deur plaaslike gehore en radiostasies ontvang.

Kan ek jou vashou? beweeg so tussen liefdespop en country, maar dit is veral die country-klanke wat dié liedjie soos ’n volstruis laat skop.

Die snit is nie ’n tradisionele liefdesliedjie in die ware sin van die woord  nie, maar raak aan onderwerpe soos beheptheid met dáárdie persoon wat jou nooit sal wil of kan liefhê nie.

Die titel van die snit is ook simbolies, ’n retoriese vraag waarop daar nie altyd ’n antwoord is nie.

Sy vertel: “Die snit neem jou op ’n emosionele reis van gevoelens; opwinding, verlies en behepte verliefdheid.“ Dié liedjie is pasknap perfek vir haar stem, wat afgerond en suiwer is. Vincent het die liedjie ook uitstekend verpak en dit is tegnies baie goed versorg.

“Ek hoop dat almal – so tussen 18 en 80 – by die liedjie sal aanklank vind. Alle geslagte en generasies, want dit handel oor ’n tydlose onderwerp,’’ sê Bianca.

Sy skop die amper-einde van die somer op ’n hoogtepunt af. Kan ek jou vashou? is pure luistergenot en ons hoop dat Bianca en Vincent weer kragte sal saamsnoer en nog baie liedjies neer-ink, want dié een is pure towerkrag.

Luister hier na Kan ek jou vashou? – https://www.youtube.com/watch?v=kN_W2hLeb5U

Die Vanderbijlparkse sangeres Bianca Pretorius

Lees weer die berig oor haar onderonsie met die verdwaalde bees by hierdie skakel: https://vaalweekblad.com/157346/verdwaalde-bees-stamp-sangeres-tot-in-hospitaal/

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button