Local newsNews

40 Jaar gelede: Gedenksteen eer die lewens van twee Volkies wat in Grensoorlog sterf

Boesman “Bushie” Bezuidenhout en Jameson Bossé is Sondag, 6 Maart 1983 op Vergenoeg (die destydse Suidwes-Afrika) doodgeskiet. Daar is nou 'n spesiale gedenksteen op Volkies se skoolterrein opgerig om hierdie boesemvriende en Oud-Volkies te onthou.

Die lewens van twee legendariese oud-Volkies wat hierdie week 40 jaar gelede in die Grensoorlog gesterf het, is op Hoër Volkskool Potchefstroom se skoolgronde met ‘n spesiale gedenksteen onthou. Boesman “Bushie” Bezuidenhout en Jameson Bossé is Sondag, 6 Maart 1983 op Vergenoeg (die destydse Suidwes-Afrika) doodgeskiet. Phillip Tromp, oud-Volkie en huidige beheerliggaam-voorsitter, Louwrens Snyman, oud-Volkie en Stephan Pieters, oud-Volkie, en tans Volkie-onnie, het leerders Maandag, 6 Maart tydens die onthulling toegespreek. Stories oor hierdie oud-Volkies is ook gedeel. Die Bond van Volkies het die inisiatief geneem om hierdie steen te onthul.

Phillip Tromp, oud-Volkie en tans BL-voorsitter, Louwrens Snyman, oud-Volkie en Stephan Pieters, oud-Volkie en huidige Volkie-onnie. Voor is Rykie Erasmus, oud-Volkie en ook lid van die Bond van Volkies. Foto: Verskaf.

Hier volg ‘n brief van Volkies se onderhoofseun van 1981, Hannes du Preez, wat hierdie twee manne se lewe eer:

40 jaar gelede op die plaas, Vergenoeg, in Suidwes-Afrika… (Hannes du Preez)

Sondag 6 Maart 1983 is Christo Francois Bezuidenhout (Boesman of Bushie) en Jameson Bossé in Suidwes-Afrika op ‘n Duitse boer se gasteplaas, Vergenoeg, deur 6 tot 10 SWAPO-insypelaars koelbloedig doodgeskiet.

Vergenoeg is naby Oshivelo op die regterste onderkant van die Etoshapan geleë, omtrent 112 km noordwes van Tsumeb en onder die rooilyn van destyds.

Boesman en Jameson het die plaas bewaak in opdrag van die Suid-Afrikaanse Weermag. Hulle is op kort afstand teen ‘n gebou buite die veiligheidsheining van die plaas, geklee in hul PT-broeke en besig om kaart te speel, vermoor. Hulle twee is direk na skool Weermag toe.

Hulle was boesemvriende, saam in Abraham Kriel Kinderhuis, saam in Potch Volkies, saam in die Weermag, saam op die grens, saam kaart gespeel en saam gesterf… Boesman en Jameson se besoek aan my en oorlede Deon van der Merwe in November 1982, waar ons geloseer het in ons eerste jaar aan die PUK, is nog vars in my geheue.

Ons het hulle gevra hoekom hulle nie vir ‘n oorplasing Voortrekkerhoogte toe vra om rugby en krieket te gaan speel nie. Boesman se antwoord was: “Hoe kan ons in die Army wees en nie grens toe gaan nie!”

Foto’s: Hannes du Preez

Boesman was 20 jaar oud toe hy 14 dae voor sy mondigwording doodgeskiet is. Jameson was 19 jaar oud en is in 1963 op lentedag gebore. Die gebroke huise waaruit hulle gekom het, het hulle saam in die Abraham Kriel Kinderhuis op Potch geplaas. Boesman was hoofseun en Jameson onderhoofseun van die Abraham Kriel Kinderhuis op Potchefstroom.

Hulle kort en uitdagende aardse lewe het wreed geëindig op die grens van ‘n ander land.

Reeds op 29 September 1978 het internasionale politici met die aanvaarding van die Verenigde Nasies se Resolusie 435 klaar besluit dat SWA ‘n een-maneen-stem verkiesing onder VN toesig sou hê. Suid-Afrika teken die Resolusie op 22 Desember 1988. Boesman en Jameson was twee van die talle jong mans wat slagoffers van die 10-jaar proses was. Hulle moes die hoogste offer bring om tyd te koop met onderhandelinge in SWA en SA en die weghou van die Rooi Gevaar (kommuniste) en insypelaars van Suid-Afrika se grense, sodat ons mense kon veilig wees.

Die oorlog het nie gegaan oor die behoud van vryheid nie… Die eerste 30 jaar na hul dood het ek 6 Maart 1983 sporadies onthou. Die afgelope 10 jaar het ek toenemend aan hulle begin dink soos wat my eie aardse lewe gemaklik verby die halfpadmerk beweeg het.

Die mooi herinneringe van ons skooldae het ek opnuut begin koester. Boesman, die kort ekstrovert met bruin oë, sy swart hare in ‘n astrante middelpaadjie gekam en die los skooldas – so bietjie van ‘n rebel.

Jameson die groter, stiller introvert, styl blonde hare, sy haarstyl ‘n poging tot ‘n middelpaadjie, met sy bruin-groen oë en altyd netjies geklee.

Beide was uitmuntende rugbyspelers. Boesman ‘n skrumskakel en Jameson ‘n buitesenter. Beide het vir Wes-Transvaal se Cravenweekspan gespeel. Boesman het vir Robert du Preez, wat later Springbok geword het, uit die span gehou. Boesman het ook vir Wes-Transvaal in krieket verteenwoordig. Boesman het ‘n belangrike bydrae gelewer tot die sukses van Potch Volkies se eerste krieketspan in 1980 en 1981 met die verowering van die Transvaalse Administrateursbeker in daardie jare. Dit het Volkies in staat gestel om die Adminbeker drie jaar in ‘n ry te wen (1979,1980 en 1981). Sy sêgoed op die veld was spontaan en uniek soos “stipkyk” as die bal op die blad rondbeweeg het en “grootskoot” vir ‘n ses. Boesman was ook ‘n goeie openingskolwer wat in 1981 baie lopies vir Potch Volkies aangeteken het. As aflosbouler het hy altyd geglo dat hy enige hardnekkige vennootskap kon breek. Hy sou ‘n kaptein gereeld teister vir ‘n boulkans. Kort van woorde was hy nie – hy het die kolwer gewoonlik gegroet met die volgende woorde voor hy begin boul het: ”Moenie skrik nie!” Hy het dit dan ook baie kere gedoen met ‘n streepbal wat laat ingeswaai het.

Ek onthou een komiese gebeurtenis in die kleedkamer van Volkies se 1ste rugbyspan toe Boesman so vir my miniatuur toksak gelag het dat hy in die toilette gaan wegkruip het om nie ons spanpraatjie te verongeluk nie.

Jameson het die petalje met ‘n glimlag staan en aanskou! My toksak het soek geraak in Jack Pauw (koshuis) en ek kon inderhaas net ‘n dwergsakkie by ‘n standerd sessie leen voor ‘n groot wedstryd teen Monnas.

Boesman se lagbui het eers bedaar toe ons al op die veld was. Volkies het darem daardie dag vir Monnas 25 -12 geklop in Krugersdorp.

Boesman het ‘n harde, vinnige en akkurate aangee aan beide kante gehad. Hy kon vlymskerp breek om die skrum en lynstaan, het takties goed geskop en was akkuraat pale toe. Ten spyte van sy klein postuur kon hy aggressief verdedig.

Jameson kon lekker vir Boesman se grappies lag. Jy moes egter twee keer dink voor jy Jameson speels stamp, klap of knyp. Jy sou jouself vinnig op die grond bevind met Jameson bo-op jou! Ons was sentermaats in 1981 vir Volkies se eerste rugbyspan – hy buitesenter en ek binnesenter. Jameson was ‘n groot, sterk en vinnige buitesenter. Dit het baie keer twee opponente gekos om hom plat te trek.

Ons het mekaar verstaan sonder om baie te praat. Hy kon sy hoek van aanval vinnig verander om ‘n gaping te vat wat oopgemaak het. Sy tydsberekening van sy aangee na Martin Knoetze (heelagter,) wat in die agterlyn ingesny het, was altyd perfek. Dit het gelyk of Martin die bal van agteraf onderskep. Wanneer Jameson ‘n opponent geduik het, het die opponent gewoonlik “gemakeer” na die duikslag. Hy was nie bekend vir sy skopwerk nie, want hy wou met die bal hardloop.

Ou Bushie en Jameson, dit is mooi herinneringe wat ons van julle in ons harte koester. Ons dank ons Hemelse Vader dat ons lewenspaaie kon kruis.

Die seer oor julle vroeë en onnodige afsterwe, wil ten spyte van die verloop van tyd, nie wyk nie. Ons salueer julle – tot weersiens…

https://potchefstroomherald.co.za/122278/40-jaar-gelede-gedenksteen-eer-die-lewens-van-twee-volkies-wat-in-grensoorlog-sterf/?fbclid=IwAR1-Ie5pyHE5o8fHzS3Mq1hE4a2EkqtyeUKN3AHP_2zwll7m3EfswJHJ3zs

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button