Local newsNews

Operasie fondse benodig na tref-en-trap ongeluk

Johan Harmse is op 1 Januarie deur 'n motor getref wat weggejaag het. Hy verkeer nou in baie pyn. Lees meer...

Johan Harmse (60) van Vanderbijlpark het 1 Januarie oudergewoonte gaan stap. Min het hy geweet wat vir hom voorlê.

‘n Motor het hom op die middelman van Piet Retief-boulevard getref en weggejaag. Hy het in die straat te lande gekom.

Johan het eers weer in die hospitaal wakker geword. Sy vrou Katrien, sê hulle is ‘n vreemdeling ewig dankbaar wat oor hom in die pad gaan staan het om seker te maak die aankomende verkeer sien hom.

“Dankie ook aan ER24 wat hom op die toneel gestabiliseer het.”

Johan se linkervoet is gebreek, hy het frakture in sy gesig en sy skouer is vergruis.

Nadat hy twee dae in die Vereeniging Kopanong Hospitaal was, is hy na die Sebokeng Hospitaal oorgeplaas.

Daar is bevestig dat hy ‘n voet- en skoueroperasie moet ondergaan, maar die hospitaal sal hom eers oor drie na nege maande kan help.

Volgens Katrien is hul gesê die lang wagtydperk is weens die operasiesale wat vol is.

Hy het nie kans gesien om so lank in die hospitaal te bly nie en is ontslaan. Hy is tans by die huis en in ‘n rolstoel.

Johan en sy skaduwee, Buddy. Johan is nou aan ‘n rolstoel gekluister totdat sy enkel geopereer kan word. Foto: Gerda Bruinette

Sy vrou moet hom met alles help. Behalwe dat hy die heeltyd in pyn verkeer, is dit vir hom ook ‘n groot frustrasie, aangesien Johan normaalweg ‘n mens is wat altyd aan die gang en met iets doenig is.

Die Harmses het intussen ‘n privaat ortopeed gaan sien wat gesê het daar moes eintlik dadelik noodope­rasies op sy voet en skouer uitgevoer word.

Die voet het ‘n gapende wond gehad wat infeksie gekry het. Die dokter het sterk antibiotika voorgeskryf wat die infeksie gekeer het.

Die egpaar het nie ‘n mediese fonds nie. Beide kry slegs ‘n ongeskikteitstoelaag. Johan het pas 60 geword en kan nou aansoek doen vir staatspensioen (Sassa).

Johan sal dringend ‘n voetoperasie, asook ‘n skouervervanging moet ondergaan.

Daarvoor word daar oor die R125 000 benodig.

“Ons het reeds amper driekwart van die geld bymekaar gemaak vir die voetoperasie en kort sowat R8 000 daarvoor. Maar die R75 000 vir die skoueroperasie kom nog kort,” het Katrien gesê.

“As ons net vir Johan uit die rolstoel kan kry. Dis moeilik om hom elke dag in soveel pyn te sien,” sê Katrien.

Johan het weer op 1 Maart die ortopeed sien en ‘n datum vir die eerste operasie moet nou vasgemaak word.

Indien enige een dalk kan help met fondse vir Johan se operasies, kontak vir Katrien by 0827922774.

Related Articles

Back to top button