Local newsNews

Senatus se bestuurder groet

"Dis net die buitekant wat oud word, binne voel hulle nog soos toe hul 21 was."

Dít is die wyse woorde van mev. Maritza Oosthuizen, wat dié week na sewe jaar as bestuurder van die SAVF Senatus aftree-oord in Carletonville en meer as 15 jaar by die SAVF die tuig neerlê. Dié ouetehuis bestaan al sedert 1988.
Oosthuizen vertel dat sy aanvanklik in 2007 as ontvangsdame by die SAVF begin werk het toe hulle kantore nog in die Northview woonstelle naby die S Buys apteekgroep was. Kollegas het Oosthuizen se vaardighede gou raakgesien en sy is vinnig na ander poste in die organisasie bevorder tot sy op 1 Januarie 2016 die leisels as bestuurder van Senatus oorgeneem het.
Volgens Oosthuizen neem sy met ‘n swaar hart afskeid van Senatus. Hoewel sy in die moeilike Covid-19 tydperk in beheer van die tehuis was, sê sy dit het haar net nog meer empatie vir die senior burgers gegee.
“Dit was swaar om te sien hoe eensaam van die inwoners is. Baie se kinders is oorsee en ander kry net ‘n bietjie SASSA-geld waarvan hulle moet oorleef. Die bejaardes het ‘n passie by my ontlok wat ek nie voorheen van geweet het nie. Hulle het die ponder my vel ingekruip,” sê sy.
Oosthuizen sê baie mense verstaan nie altyd bejaardes nie.”Daar is ‘n tikkie wysheid met al die swaarkry en goed wat hulle al deurgemaak het. Almal van hulle weet hulle moes vroeër al werklik begin leef het want dis net mens se buitekant wat oud word, binne het jy nog al dieselfde drome.”
Dié lewenswaarheid is ook wat Oosthuizen self aangespoor het om vroeër af te tree sodat sy meer tyd vir haar eie belangstellings soos tuinmaak en voetslaan kan hê. Sy beplan egter om nog gereëld by Senatus te gaan kuier om met die inwoners, vir wie sy baie omgee, te gesels. Shaun Hicks, wat voorheen ‘n senior lid by die polisie op Carletonville was, neem die leisels as Senatus se bestuurder oor.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button