Local newsNews

Mark Pretorius het voluit geleef

Dankie aan elkeen wat vir Corien en die gesin ondersteun het met boodskappe, oproepe, besoeke, die daar-wees en elke gebaar van omgee die afgelope paar dae. Dit word opreg waardeer.

Of dit sy beroep, sy stokperdjies of sy gesin was. Wat Mark Pretorius aangepak het, het hy met oorgawe, passie en ywerigheid gedoen. Hy was iemand wat geweet het wat hy uit die lewe wou hê, en gewerk het tot hy dit verower het. Hy het met oorgawe geleef. Hy het geleenthede raakgesien wat die blote oog nie kon begryp nie. Maar om sy passies te  deel met sy gesin en sy vriende, het hom op sy gelukkigste gemaak.
Familie en vriende sal hierdie naweek met ‘n private gedenkdiens afskeid neem van Mark, geliefde sakeman van Parys, wat Woensdag 8 Februarie in die Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark oorlede is. Mark het Sondag ‘n beroerte gehad. Hy was 61 jaar oud.
Mark was vir die grootste deel van sy lewe in Parys. Hy en Corien het in 1990 hul hier kom vestig.
Hy is op Klerkdorp gebore en het B.Com Rek- sowel as n Honneursgraad in Bedrysrekeningkunde aan die Noordwes Universiteit te Potchefstroom studeer. Dit was op kampus wat hy  Corien leer ken het, en hul uiteindelik ‘n pad van 37 jaar saam sou stap.
Toe Mark en Corien Parys toe getrek het, het hy ‘n drankwinkel gekoop en bestuur.  Daarna het ‘n nuwe uitdaging oor sy pad gekom met ‘n melkboerdery en  konstruksiemaatskappy, RDCON, wat hy saam met ‘n vennoot bedryf het. Mettertyd het hy op die konstruksiemaatskappy gefokus en verskeie groot projekte aangepak waaronder HOP huise in Koster, en ‘n projek by Goldfields in Carletonville op die lys was.
Vir ‘n nuwe uitdaging het hy altyd kans gesien en ook ‘n Barcelos-tak in Parys geopen.
Toe hy later in sy beroepslewe begin afskaal het, het hy sy groot passie vir sweeftuie uitgeleef en sy sweeftuiglisensie verkry. Hy was ten tyde van sy dood voorsitter van die nasionale sweeftuig-organisasie, SSSA, en ook lid van die plaaslike sweeftuigklub.
Hy was  ‘n geregistreerde sweeftuiginstrukteur en het met groot toewyding verskeie sweeftuie gerestoureer. Een wat hy onder meer  later self sou vlieg.
Hy was lief vir gholf, boogskiet en het graag sy ysterperd, ‘n BMW-motorfiets, op die pad gevat. Hy was n danige skaakspeler en het gereeld sy seuns uitgedaag vir n rondte. Met dit alles was hy n boffin op die klawers – musiek het jy gehoor as jy inkom by die huis.
Hy het ook verskeie stap- en bergklimroetes aangepak,  en selfs die Kilimanjaro-uitdaging in 2000 voltooi.
Naas sweeftuie was hengel sy grootste passie, en ‘n klein seuntjie droom wat vir hom bewaarheid is.
As kind het ‘n jong Mark op ‘n dag ‘n visstok en katrol in ‘n winkelvenster gesien en besluit dat hy ‘n vis groter as daardie hengelgerei wou vang. Ook dit het hy reggekry met ‘n marlyn en ‘n seilvis wat hy gevang het. Vreugdes wat hy met sy seuns, Regardt en Dewald, en Corien kon deel.
In alles wat hy aangepak het – was Mark se grootste vreugde om sy gesin, sy vriende en sy honde, Max, Shamy en Katriena, om hom te kon hê. Hy’t geleef, voluit, met oorgawe tot die einde toe.
Mark word oorleef deur Corien, sy seuns Regardt en  Dewald, skoondogter Kamilla en broer, Werner.
https://parysgazette.co.za/80591/mark-het-voluit-geleef/?fbclid=IwAR1u68x7Oo6wV70Vm8LrB9ujV7o9n__9F2G0UfREj45akMHSBPqco_Gwav8

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button