Local newsNews

Dr. Letitia se Afrika avontuur

Die veearts, dr Letitia Swartz het 'n Desember vakansie van 'n ander aard beleef... en vrede gevind. Lees meer...

Kenia, Ruanda, Uganda. Dis waar dr. Letitia Swartz, Sasolburg se geliefde veearts, Kersfees en Nuwejaar deurgebring het.

Oor haar Afrika Avontuur kan sy nie uitgepraat raak nie. Dit was nog altyd een van haar groot drome om na dié lande te reis.

Letitia (tweede van regs) staan op rus nes die Masai.

In Desember het sy die groot tree uit haar gemaksone geneem om twee weke saam met ses vreemdelinge die Afrika lande aan te durf.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die Masai Mara Natuurreservaat is heeltemal anders as wat ek my dit voorgestel het. Ons het baie olifante, leeus en selfs twee keer ‘n luiperd gesien,” vertel sy.

Slegs ‘n beperkte aantal besoekers word per dag in die reservaat toegelaat en hulle mag ook net met begeleide toere deur die reservaat beweeg.

“Dis asof mens en dier ‘n wedersydse respek vir mekaar in die Masai Mara het.”

Letitia sê die ander groeplede het van so ver as Meksiko, Switzerland en Lithuania gekom. “Daar was een ander Suid-Afrikaner, ‘n vrou van Johannesburg, so ek kon darem in Afrikaans ook gesels,” lag sy vrolik.

Die groep moes self kos kook en elke aand hul tente opslaan. “Ons was die meeste van die tyd nat en vuil en het van boontjies, aartappels en rys geleef.

“Op Kersdag het ons ‘two minute noodles’ as ‘n bederf gehad,” vertel sy. Letitia reken dit is die beste manier om Afrika te ontdek. Ons het soveel bymekaar geleer en na aan die natuur geleef.

“Dit was ‘n genesingsproses vir my na ‘n harde jaar. In die tyd het ek weer vrede en hoop gekry.”

In Kenia het hul ook nader kennis gemaak met die Masai. “Die mense is baie vriendelik en top fiks. Hul loop elke dag myle agter hul beeste aan. Ek het gevra hoekom staan hul altyd op een been en toe sê hulle dis hoe hulle rus.”

Natuurlik het sy probeer om ook soos die Masai te spring, maar sê sy kon dit nie naastenby so hoog soos hulle doen nie.

In Uganda het hul die voorreg gehad om saam met opgeleide plaaslike toergidse die bos in te vaar om gorillas te besoek.

Die jong gorilla was die eerste een wat hul opgespoor het.

“Daar is nie paadjies nie. Die gewapende wagte wat heeltyd saam met jou loop, kap die bos voor jou oop.

“Ons het gesigmaskers gedra om seker te maak ons dra nie siektes aan die gorillas oor nie en ons mag glad nie gepraat het nie. Net handgebare gebruik,” vertel sy.

Hulle moes baie ver loop, maar uiteindelik het hul die eerste gorilla, ‘n jongeling, gewaar waar hy doodluiters aan ‘n tak gesit en kou het.

Die gorillas ken al die toergidse en is rustig as daar mense kom. “Daar het ook twee groot Silwerbacks omtrent 1.5 m van ons af verbygeloop. Dit was net ongelooflik. Ek het net die oomblik beleef. Dis nie iets wat beskryf kan word nie.”

Letitia sê sy was aangenaam verras met Ruanda aangesien mens net altyd die negatiewe oor die land hoor.

“Hulle is ‘n baie gemoedelike nasie en trots dat hul kon opstaan na die verskriklike genocide dekades gelede.”

Dit was ook in Ruanda waar hulle ‘river rafting’ gedoen het en Letitia op ‘n stadium gedink het sy gaan dit nie oorleef nie.

“Ek het gedink vandag gaan ek dood op die Nylrivier en gelukkig het ek versekering uitgeneem,” lag sy nou oor die petalje.

Vol lewenslus en reg vir 2023 se uitdagings.

“Jy weet, ek het vier dinge in Kenia verloor. My hoed wat ek verruil het by die Masai, my waterbottel wat in alle geval begin lek het, my wasgoedlyn wat ek gelos het omdat ek nie lus was om dit in die donker te gaan haal nie en my hart op die land,” verklaar sy met oë wat skitter.

Duidelik was dit nie haar laaste Afrika avontuur nie. Gaan kyk gerus na haar video’s wat sy tydens die reis gelaai het op YouTube kanaal @letitiaswartz2217

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button