Local newsNews

Groot skade toe voertuig by hek inbars

"Motoriste wat nie die pad ken nie, misgis hul maklik met die duik en die hobbel naby ons huis en verloor dan beheer oor hul voertuie"

Die Vorster-egpaar van Playfair-boulevard het vroeër die maand eerstehands met die Engelse term, “gate crasher” kennis gemaak toe ‘n afleweringsvoertuig by hul woonhuis se hek ingebars het.

Mnr. Chris Vorster vertel dat hy en sy vrou die middag in hul agtertuin gesit het toe hulle ‘n harde slag hoor.
“Ek het gedink dis dalk sinkplate wat van ‘n vragmotor afgeval het. My vrou is vorentoe om te gaan kyk en het teruggekom met die nuus dat ons nie meer ‘n hek het nie!”

Die egpaar het dadelik hulp aan die bestuurder van die afleweringsvoertuig gaan verleen, maar gelukkig is hy nie ernstig beseer nie. Die voertuig was wel erg beskadig en duisende rand se skade is ook aan die Vorsters se hek aangerig. Die voertuigbestuurder het die ongeluk by die polisie gaan aanmeld en die Vorsters se huisversekering het reeds hul eis uitbetaal. Die Vorsters is in die proses om die skade te laat herstel.
Hoewel dit die eerste keer was dat ‘n voertuig teen hul hek vasgery het, het heelwat voertuie voorheen ook al die pad hier byster geraak en op die Vorsters se sypaadjie beland.

“Baie bestuurders misgis hulle met die stukkie pad voor ons huis. As jy om die sirkel kom en jy ry voor die kerk verby, is daar ‘n duik en ‘n hobbel direk nadat jy in Playfair-boulevard ingegaan het. Dit kan ‘n bestuurder wat die pad nie ken nie en dit nie verwag nie, se voertuig van beheer af gooi, selfs al ry mens nie eers baie vinnig nie. Die gevolg is dat ‘n voertuig dan die pad verlaat en op ons sypaadjie tot stilstand kom,” verduidelik Chris.
Die onlangse botsing is deur die Vorsters se sekuriteitskamera afgeneem. “Ons is net dankbaar die bestuurder het nie seergekry nie en dat niemand van ons naby die hek was toe dit gebeur het nie, anders kon dinge dalk baie slegter afgeloop het,” sê Chris.

 

Die chaos aan die binnekant van die Vorsters se erf nadat ‘n afleweringsvoertuig by die hek ingebars het.

 

Die buitekant van die hek waarteen die voertuig gebots het toe dit van die pad af geloop het

https://vaalweekblad.com/151846/groot-skade-toe-voertuig-by-hek-inbars/?fbclid=IwAR01gKqYpJE1ULIIHM4EB8SxhI4jzJbw4gIk8ni2LJtYtupzdX6h1Kt7YQY

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button