NewsNews

Vrou (63) in hospitaal met gebreekte been na motoris haar omry

Annatjie is tans in Potchefstroom Hospitaal waar sy 'n operasie benodig om haar been te herstel wat in die ongeluk gebreek het.

Annatjie Jones (63) is die afgelope Saterdag (30 Julie) tydens ‘n tref en trap-voorval in die parkeerarea van Snowflake-gebou in Kockstraat beseer toe ‘n motoris haar in die parkeerarea omgery en weggery het.

Annatjie is tans in Potchefstroom Hospitaal waar sy ‘n operasie benodig om haar been te herstel wat in die ongeluk gebreek het. Daar is tans te veel skade aan haar been om te opereer, aangesien die wonde nog nie herstel het nie.

Annatjie Jones in die draagbaar net toe sy by Potchefstroom Hospitaal opgeneem is.
Annatjie Jones in die draagbaar net toe sy by Potchefstroom Hospitaal opgeneem is.

Annatjie, wat by Uitkoms-woonstelle bly, het besluit om met parkering te help tydens ‘n koshuisfunksie van die Noordwes Universiteit, Patria July, wat daardie aand by die Snowflake gebou plaasgevind het. Volgens Annatjie is dit iets wat sy gereeld doen.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het bevestig dat kaartjieverkope vir hierdie funksie oop was vir die publiek.

Annatjie beklemtoon dat sy haar groen reflekteer baadjie aangetrek sodat sy ook sigbaar in die aand is.

“So ongeveer 19:00 het ‘n jong man en sy meisie my gevra dat ek net hulle parkeerspasie moet hou toe hulle ry. Hulle is kort daarna terug, maar toe lyk dit of hulle gestry het. Die man was baie kwaai en het genoem dat ek uit sy pad moet kom. Hy het in sy motor geklim en met die wegtrek in trurat het hy teen my regterkant gestamp. Ek het geval en hy het toe hy verder agtertoe ry, oor my been gery. Dit was donker so ek kon nie mooi agterkom watter motor dit is nie, maar dit het gelyk of dit ‘n maroenkleur en miskien ‘n Toyota Yaris was,” onthou sy.

Kort daarna is ER24 ontbied en hierdie ambulansdiens het 20:21 vir Annatjie na Potchefstroom Hospitaal geneem. Sy is morfien vir die pyn toegedien en haar been se wonde is behandel. Daar is tans twee seer plekke, een op haar bo-been waar sy die grond getref het en by haar knie waar die wond al ‘n gat veroorsaak het.

Annatjie Jones (63) regs sit in Potch Hospitaal met ‘n gebreekte been nadat ‘n motoris haar op Saterdag, 30 Julie, omgery het.

Sy sterk nou nog in die hospitaal aan waar sy in erge pyn verkeer.

Annatjie se been na die ongeluk.

Haar gesin, insluitend haar twee dogters, Annemarie Botha en Cindy Bloem, is hewig ontsteld oor die voorval en die nagevolge wat die gesin nou moet dra.

“Ek het solank vir my ma ‘n rolstoel gekry net sodat sy kan rondbeweeg. Sy kan nie net hier in die bed wees nie, sy sal sere kry daarvan. Verder is sy in baie pyn na die voorval omdat sy eers moet wag dat haar wonde genees voor daar geopereer kan word,” noem Annemarie.

Annatjie vertel dat die jong man wat haar gestamp het netjies aangetrek was met ‘n wit hemp, ‘n swart das en dat hy donker hare het.

“Sy meisie het ook donker hare en ‘n bril gedra,” vertel sy verder.

Haar dogters meen dat hulle graag die persoon wil opspoor wat hulle ma beseer het, sodat geregtigheid kan geskied.

“Ons voel dit is net reg as ons weet wie dit was sodat hulle ten minste kan help met die mediese kostes. Ons ma wou net help en nou sit sy met baie seer in die hospitaal.

Volgens Annemarie het sy ‘n saak by die polisie oopgemaak rakende die voorval.

Lees hier die oorspronklike berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Potchefstroom Herald:

Vrou (63) in hospitaal met gebreekte been na motoris haar omry | Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button