NewsNews

Goeie nuus: Handré (6) is tuis!

Die Reads van Sasolburg is weer almal na 'n ernstige motorongeluk bymekaar en hul beker van dankbaarheid loop oor.

Handré Read (6) is Vrydag, 1 Julie ontslaan nadat hy lank in die hospitaal en later in ‘n rehabilitasiesentrum was. Die gesin was op 27 April in ‘n motorongeluk betrokke.

Juan, Henro, Karen en Sion, met Handré voor.

Almal het in verskillende hospitale beland. Karin se broer van Kemptonpark het ingestaan en die nodige vorms en toestemming vir behandeling namens hulle gegee toe Handré na Netcare-Unie-hospitaal in Alberton gevlieg is.

Dit was die enigste hospitaal waar ‘n bed in die pediatriese intensiewe sorgeenheid oop was, maar soos pa Henro sê, ook dit was ‘n bestiering van ‘n Hoër Hand.

Daardie aand het die professor op die gebied ingestaan vir ‘n kollega en kon hy dadelik vir Handré opereer.

Op die oomblik gaan dit goed met die vyf Reads, alhoewel van die beserings nog ‘n wyle gaan vat om te herstel.

Henro het nog rugpyn en al Karin se gebreekte ribbes het nog nie aangegroei nie. Juan (9) sê hy is nou ‘okay,’ hy is terug by die skool.

Die kraak in Sion se skedel het volkome genees en hy is baie bly sy Handré is tuis.

Sy ma sê toe hul Handré gaan haal het, was Sion by die kleuterskool. Toe hy Handré, sien het hy net gehardloop en hom styf vasgehou.

Die grootste wonderwerk bly egter Handré. Die kopbesering wat hy opgedoen het, word as een van die mees traumatiese beserings beskou.

Karin vertel hoe die dokter wat hom in die ongevalle-afdeling gesien het en sy hare afgeskeer het, ‘n paar weke later by sy hospitaalkamer kom inloer het.

“Ek was besig om Handré jellie te voer en die dokter kon nie glo dis dieselfde kind nie. Hy het net in verwondering gestaan en kyk.”

Alhoewel hy steeds fisio-, arbeids- en spraakterapie moet kry, wys die toetsresultate geen blywende skade nie. Hy het ook nie geheueverlies nie.

Om die waarheid te sê, hy was slegs ‘n paar dae by die huis toe skok hy sy ma tot stilstand toe hy op sy fiets die gang af ry.

Handré Read alom bekend as Vinkie is weer sy normale ondeunde self. Foto: Dandelight Studio

Die einste Handré steur hom nie veel aan die grootmense se gesels nie, sy aandag is op sy selfoon met die speellys van Afrikaanse musiek wat sy pa vir hom gelaai het.

Bok van Blerk is sy gunsteling, al is Spiderman sy held. Hy luister wel, want kort-kort glimlag hy met blink oë in my rigting en begin sommer giggel toe ek uitvra oor die fietsry in die huis.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad hier:

Goeie nuus: Handré (6) is tuis! | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button