NewsNews

Fochvillers laat hul stemme hoor

Die vergadering in Fochville verlede week om die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) te bespreek, is deur baie inwoners as ‘n geleentheid gebruik om hul ongelukkigheid oor die swak dienslewering in die dorp te laat hoor.

Die GOP (IDP in Engels) is ‘n super plan vir ‘n munisipale area wat ‘n raamwerk daarstel vir ontwikkeling. Vergaderings om insette van inwoners oor die munisipaliteit se GOP te kry, is die afgelope paar weke in talle dorpe en woongebiede binne die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gehou.
Die Fochville Burgersentrum se hoofsaal was gepak met inwoners wat die vergadering bygewoon het. Die munisipaliteit se hoofsweep, mnr. Thabo Mokuke, wat die vergadering gelei het, het genoem dat die vergadering spesiaal op aandrang van die hoofsweep van die Wesrandse Distriksmunisipaliteit, me. Almé Rowles-Zwart, gehou is.
Dit het egter vinnig geblyk dat die meeste inwoners nie daar was om die GOP te bespreek nie, maar eerder om hul klagtes oor die swak dienslewering in veral Fochville, te bespreek.
Die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Siyethemba Mdletshe, het sommer met die intrapslag ‘n spreekbeurt gekry om te verduidelik wat die munisipaliteit se planne is om die elektrisiteitsprobleme wat baie huishoudings die afgelope paar maande ondervind, aan te spreek.
Volgens Mdletshe het die munisipaliteit, na talle klagtes van inwoners, die stroombeperking by die substatsie wat Fochville van krag voorsien, van 600 ampere na 850 ampere verhoog. Volgens hom sal dit die probleme tydelik oplos.
Mdletshe het genoem dat die munisipaliteit al in 2009 begin besef het dat die substasie nie genoeg elektrisiteit vir die hele Fochville-area kan voorsien nie, veral nie as daar verdere ontwikkeling ook gedoen gaan word nie. Hulle het as gevolg hiervan by Eskom aansoek gedoen om die kapasiteit van die substasie te verhoog. Dié proses is egter vertraag omdat die munisipaliteit se rekening by Eskom agterstallig geraak het. Die aansoek is op die ou einde eers in 2019 goedgekeur. Teen dié tyd was die Fochville area se elektrisiteitsverbruik egter reeds hoër as die vergrote kapasiteit waarvoor die munisipaliteit aansoek gedoen het.
Om dít aan te spreek wil die munisipaliteit ‘n nuwe transformator, wat elektrisiteit kan lewer wat tans vir die hele Fochville-area beskikbaar is, oprig net om die Kokosi-area te bedien. Elektrisiteit van die huidige transformator, wat nou die hele area moet bedien, sal in die toekoms net na Fochville gaan. Mdletshe het benadruk dat die munisipaliteit bereid is om Fochville te help weens die feit dat byna al die inwoners vir munisipale dienste betaal.
Verskeie inwoners wat die kans gekry het om iets te sê, het egter steeds hul frustrasie met die munisipaliteit beklemtoon.
Een van die groot klagtes was hoekom die munisipaliteit aanhou om nuwe ontwikkelings te doen en toe te laat terwyl hulle weet dat die dienste-netwerk nie daarvoor toegerus is nie. Van hulle het ook voorgestel dat die munisipaliteit alle nuwe ontwikkeling stop tot die huidige probleme heeltemal opgelos is.
Van die probleme waaroor ook gekla is, is die feit dat die munisipaliteit nie inwoners inlig en op hoogte hou oor hoekom probleme soos die elektrisiteitsonderbrekings plaasvind nie, die algemene toestand van die dorp, die toestand van die vullisterrein en die feit dat inwoners wat sukkel om vir dienste te betaal, nie van betalings vrygestel word nie, al doen hul hiervoor aansoek.
Baie was ook ongelukkig oor die feit dat die munisipale rekeninge van sommige raadslede meer as R100 000 agterstallig is.
Die burgemeester, me. Nozuko Best, het nie op elke klagte gereageer nie, maar gesê dat die munisipaliteit weer later vanjaar ‘n vergadering in Fochville sal hou om terugvoer te gee.

Related Articles

Back to top button