BlogsNewsNewsOpinions

Ope brief aan die munisipaliteit

Die inwoners van Fochville het nou genoeg gehad van die Merafong Plaaslike Munisipaliteit en die Raad.

Ons is moeg vir allerlei verskonings en blaamverplasing. Dit is altyd iemand anders se skuld. Niemand aanvaar verantwoordelikheid vir enigiets nie. Dit geld vir die hele Raad en verteenwoordigers van alle politieke partye. Ons weet lankal Merafong is insolvent as gevolg van korrupsie en onbevoegdheid. Derhalwe is die munisipaliteit nie in staat of het nie die wil om dienste te lewer nie. Die laaste strooi is die berig in die Herald van 5 Mei. Dit het met dik swart lyne onderstreep wat ons lankal weet: Merafong is totaal disfunksioneel. Die punt van omkeer en regruk is lankal verby. Hierdie Raad het nie die vermoë of die politieke wil om iets te doen nie. Derhalwe is al wat oorbly om Merafong onder administrasie te plaas.
Die inwoners en belastingbetalers wil nie ‘n vergadering met die burgemeester hê nie. Sy is deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Ons wil ‘n vergadering met die Premier van Gauteng hê. Ons wil aan hom ons versoek rig om Merafong as disfunksioneel te verklaar en onder administrasie te plaas. Dit is al uitweg om dalk weer oor te begin. Hoe Merafong ooit sy skuld aan Eskom en Rand Water gaan terugbetaal is en bly ‘n ope vraag. Wat ook verder kwel is dat ons wat getrou ons rekeninge betaal, net bly betaal sonder dienste. Waarheen gaan die geld en wat word daarmee gedoen? Die vermoede is dat ‘n groot deel vir salarisse gaan. Dan ‘n deel aan Eskom en aan Rand Water. Dan is daar niks oor vir instandhouding, dienste en kapitaalprojekte nie. So Merafong het ‘n selfvoedende monster geword.

Ons daag die Raad uit om ons verkeerd te bewys.

(Die Herald het die brief aan die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gestuur maar het teen druktyd geen terugvoering ontvang nie. – Redakteur)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button