NewsNews

Hoewe-inwoners steeds lang tye sonder krag

Volgens een van die ontstoke inwoners, mnr. Leon Steenekamp, is hulle steeds elke tweede dag vir die grootste deel van die dag sonder elektrisiteit. Die rede hiervoor is dat dié area se kragtoevoer aan dié van Greenspark verbind is. Die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit sny nou al vir twee maande Greenspark en ander dorpe soos …

Volgens een van die ontstoke inwoners, mnr. Leon Steenekamp, is hulle steeds elke tweede dag vir die grootste deel van die dag sonder elektrisiteit.
Die rede hiervoor is dat dié area se kragtoevoer aan dié van Greenspark verbind is. Die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit sny nou al vir twee maande Greenspark en ander dorpe soos Kokosi, Khutsong en Wedela se krag met tye af omdat inwoners nie daarvoor betaal nie.
“Alles het begin met die oorhoofse lyn wat nie in stand gehou word nie,” sê hy.
Dié tekort aan instandhouding het veroorsaak dat die ring-voer na Greenspark nie meer werk nie. Indien die munisipaliteit nou die kragtoevoer na Greenspark wil afsny, moet hulle dit óf in Greenspark self gaan doen óf by ‘n skakelaar afskakel wat die hoewes ook beïnvloed. Volgens Steenekamp en ander inwoners met kennis oor die kragtoevoer, hoef die munisipaliteit net ‘n verandering op die kragstelsel te doen wat hul sowat R35 000 sal kos.
Omdat verskeie hoewes deur die probleem beïnvloed word en daar besighede op ‘n hele paar van hulle is, het hy uitgewerk dat die inkomste wat die munisipaliteit elke maand verloor deur die hoewes se krag ook af te skakel, baie meer is as dit.
“Ons het hulle al hoeveel keer gevra om die probleem reg te maak, maar niks gebeur nie,” kla hy.
Asof dié probleem nie genoeg is nie, was die hoewe-inwoners se krag ook nog verlede week as gevolg van Eskom se beurtkrag en ander probleme met die munisipale elektrisiteitstoevoer op ander tye ook af.
Steenekamp sê die probleem is nou al só erg dat die inwoners oorweeg om Eskom te nader om eerder krag deur dié instelling te kry. Die plase reg langs die hoewes kry reeds hul krag direk van Eskom. Die Herald het weer die klagtes na die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit geneem.
Volgens die munisipaliteit se woordvoerder het hulle wel ‘n oplossing vir die probleem geïdentifiseer. Dít sal blykbaar verseker dat Greenspark hul eie elektriese lyn kry. Sy sê dat indien die inwoners eerder elektrisiteit van Eskom wil hê, sal hulle hiervoor by Eskom moet aansoek doen. Eskom sal dit op hul beurt aan Nersa (die nasionale energie-reguleerder) vir goedkeuring moet voorlê.

Related Articles

Back to top button