NewsNews

Hoërskool Fochville bult hul spiere

Hoërskool Fochville se sportspanne het weer gewys dat die skool vir niemand hoef terug te staan nie.

“Met twee jaar van geen sport nie, het die Fochies die voorbereiding vir vanjaar se Super 16 voorseisoen aangepak, maar glad nie geweet wat om te verwag nie.
“Ons kan egter met trots sê dat harde werk, ure se opoffering, vroeg opstaan en ver ry met busse met puik resultate beloon is,” sê die skool se woordvoerder, me. Elsabe de Mesquita.
Hoërskool Fochville se harde werk is beloon toe hulle algeheel vierde in die reeks, waarin skole van vier provinsies meegeding het, geëindig het.
Die skool is ook amptelik as die beste hokkieskool aangewys, wat ‘n reuse-prestasie is. Die skool se rugby eindig agtste en die netbal negende, wat hul beste prestasie ooit is. Die skool se gholfspan eindig algeheel vierde en Tiaan Wolfaardt stap met die louere weg as kampioen van die dag. Hoërskool Fochville se skaakspelers maak puik skuiwe en eindig 11de.
Dit was egter nie al nie, aangesien die skool se o.15 hokkiespan hul kompetisie gewen het en die o.14 rugbyspan die Plaatwenners is.
Verskeie spelers het ook individuele prestasies bereik en is daarvoor met Super 16-speldjies beloon.
Die netbalspelers Megan Welman (o.14), Esmarie Pieterse (o.15) en Ancri Joubert (o.16) is vir uitstaande spel beloon, terwyl die hokkiespelers Corlia Pistorius (o.16) en Alex Kriel (tweede span) ook speldjies ontvang het.
Die o.14 rugbyspeler Nathan Knoetze het ook ‘n speldjie vir uitstaande spel ontvang.
“Elke trotse Fochie-leerder, afrigter en ouers gee verseker alle eer aan ons Hemelse Vader vir Godgegewe talente wat ons kon gebruik tot Sy eer en daarom is ons nederig dankbaar,” sê De Mesquita.

Related Articles

Back to top button