NewsNews

Vonnis vir plaasmoordenaars verwelkom, borgtog vir polisiemoordenaar betreur

Vonnis vir plaasmoordenaars verwelkom, borgtog vir polisiemoordenaar betreur

TLU SA sê hulle is verheug oor die skuldigbevinding en vonnis wat die moordenaars en aanranders van die bejaarde mnr. Alwyn van Zyl en sy vrou, René van Naboomspruit opgelê is. Die feit dat die moordenaars se appèl van die hand gewys is, is soveel beter sodat hulle nie nog hoftyd en belastingbetalersgeld kan vermors nie.

Dit is die reaksie van mnr. Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se Noordstreek, nadat Yaganias Saga, Lloyd Madumba en Tatenda Mangwenya swaar gevonnis is op die moord op mnr. Alwyn van Zyl en die ernstige aanranding op sy vrou, René. Hulle het almal lewenslange vonnisse gekry vir moord en aanranding. Regter Violet Semenya het in haar uitspraak gesê dat die plaasmoorde en die wreedheid daaraan nie geduld mag word nie en dat daardie boodskap publiek gemaak moet word. Haar verdere woorde was die slagspreuk van TLU SA: “Have you eaten today? Thank a farmer.” “Dit is die tweede keer dat hierdie slagspreuk in ‘n uitspraak gemeld word, en ons is bly dat daardie boodskap begin aanklank vind,” sê mnr. Van de Graaf.

Die beskuldigdes in die moord verlede week op die bejaarde mnr. Louis en sy vrou Ina Cloete het vandag in die landdroshof op Vuwani verskyn. ‘n Aantal boere en ander belangstellendes het positief op TLU SA se versoek gereageer om by die hof teenwoordig te wees as blyk van meelewing en ordelike protes teen plaasmoorde. Die twee beskuldigdes se saak is uitgestel tot 11 Mei 2022 vir verdere ondersoek. “Ons is bly dat hulle in aanhouding bly tot dan toe en dat hierdie terroriste nie die geleentheid kry tot dan om hulle duiwelswerk voort te sit nie,” sê mnr. Fanie Havinga, ondervoorsitter van TLU SA Noord en ook voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie. “Ons sal beslis poog om getuienis aan te bied tydens ‘n moontlike borgaansoek om te verhoed dat hulle enigsins vrygelaat word,” sê hy.

Die familie van die vermoorde Cloete egpaar het ook hul dank en waardering uitgespreek vir wat die boeregemeenskap doen om die misdadigers agter tralies te hou.

“Waar hierdie gebeure ons vertroue in die regstelsel ondersteun het, gebeur die teenoorgestelde op ander plekke. In Standerton is ‘n beskuldigde vir die moord op ‘n polisiebeampte vrygelaat op R800 borgtog – dit is minder as ‘n simboliese borg bedrag. Naas boere is polisiebeamptes die grootste teikens van moordenaars, en die boodskap moet in beide gevalle dieselfde wees,” sê mnr. van de Graaf.

Related Articles

Back to top button