NewsNews

Hoewe-inwoners spook met munisipale probleme

Inwoners van die Leeuwspruit-hoewes net buite Fochville kla dat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit hulle grys hare gee.

Volgens een van die inwoners, mnr. Hein Marais, word dié hoewe se elektrisiteit óók afgesit elke keer wanneer die nabygeleë Greenspark se elektrisiteit as gevolg van wanbetaling afgesit word. Dit gebeur ondanks die feit dat die Leeuwspruit-inwoners wel vir hul munisipale dienste betaal.
Die munisipaliteit het verlede week begin om dorpe in die omgewing waar die meeste inwoners nie vir elektrisiteit betaal nie, twee keer per week van 07:30 tot 21:00 te sny. Net 9% van Greenspark se inwoners betaal tans hul rekeninge, terwyl die meeste inwoners van die Leeuwspruit-hoewes besighede bedryf wat van elektrisiteit afhanklik is.
Marais en ‘n gemeenskapsleier van die dorp, mnr. Braam Nel, spook met die munisipaliteit om nie die mense in areas wat wel betaal, saam met dié van Greenspark af te sit nie.
“Die munisipaliteit se finansies is in só ‘n warboel dat hulle vir Eskom en Rand Water saam meet as ‘n biljoen rand skuld. Dit beteken egter nie dat hulle mense wat wel vir hul dienste betaal, te na moet kom nie,” sê Nel.
Volgens nóg ‘n inwoner van die omgewing, mnr. Elmar Ley, het hulle gehoor dat daar reeds ‘n kabel is wat net gekoppel moet word om die hoewes se elektrisiteitstoevoer van dié van Greenspark te skei.
Intussen spook Marais en Ley ook reeds sedert Oktober dat die munisipaliteit ‘n waterlek langs die toegangspad na die hoewes kom herstel. Hulle het die probleem al verskeie kere by die munisipalitiet se inbelsentrum aangemeld, maar het tot dusver geen hulp ontvang nie.
Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag oor die probleme uitgevra.
Die munisipale woordvoerder sê dat hulle ondersoek sal instel oor hoe om te keer dat inwoners in areas wat vir dienste betaal, saam met die wanbetalers afgesny sal word.
Die munisipaliteit het ook belowe om die waterlek teen die einde van die week te herstel.

Related Articles

Back to top button