NewsNews

Klein ‘wonderwerkie’ klou vas en word al sterker

Op 13 Januarie is ‘n pypie ingesit om vog van haar brein af te laat dreineer. Die eerste poging het nie goed gefunksioneer nie en die prosedure moes op 27 Januarie herhaal word.

erwyl die wêreld onlangs Kersfees en Nuwejaar gevier het, het ‘n pasgebore dogtertjie, Alissa van der Walt, moedig begin veg teen die struikelblokke wat op haar lewenspad wag.

Vir haar ouers, Shevaughn (30) en Stefan Van der Walt (34) van Meyerton, was dit ‘n groot verrassing toe hulle in Junie verlede jaar uitvind dat daar ‘n baba op pad was aangesien Shevaughn kort tevore ‘n miskraam gehad het.

Slegs ‘n paar weke in die nuwe swangerskap in het Shevaughn begin bloei. Daar is gevrees dat sy weer ‘n miskraam gaan hê, maar ‘n sonarondersoek het die volgende dag getoon dat die fetus nog leef. “Daar was ‘n flou hartkloppie, so klein soos ‘n mosterdsaadjie, en toe onthou ek Jesus het gesê al is ons geloof so klein soos ‘n mosterdsaad, kan berge daarmee versit word,” sê Shevaughn.

Slegte nuus het egter tussen die 14de en 17de week van swangerskap op die ouerpaar gewag: Sonarondersoeke het sekere afwykings waargeneem en daar is gevrees dat die kleinding Down-sindroom het. Haar breinventrikels was ook aansienlik vergroot. Spesialiste het met empatie voorgestel dat die swangerskap liewer getermineer moes word.

“Ons was so bang en onseker oor wat om te doen maar het uiteindelik besluit om die swangerskap te beëindig. Ons het ‘n afspraak vir die volgende week gemaak en my ma het saam met my gegaan. Terwyl die ginekoloog die terminasieproses aan ons verduidelik het, het ek besef dat ek nie my kind se lewe wou beëindig nie,” sê Shevaughn. Sy het besluit om die swangerskap in geloof voort te sit.

Toetse het kort daarna getoon dat die ongebore baba nie Down-sindroom het nie, maar dat haar koppie en ventrikels wel besig was om buitengewoon groot te word. Teen die 28ste week van swangerskap was die koppie reeds so groot dat dit tussen Shevaughn se ribbes vasgesit het, wat tot uiterste ongemak vir die swanger ma gelei het.

Op 23 Desember, in die 32ste week van swangerskap, het Shevaughn se water onverwags gebreek en Stefan het met haar hospitaal toe gejaag. Stefan moes eers ‘n Covid-toets doen en was net betyds om te sien hoe hul eerste kind met ‘n keisersneë in die lewe gebring word. Hoewel sy 8 weke te vroeg gebore is en hulle dankbaar was dat hul klein “Warrior Princess” leef, was dit duidelik dat daar groot probleme was.

Haar koppie was uitermate groot en sy is met holoprosensiefalie (HPE) en hidrokefalie, wat in die volksmond as ‘n “waterhoof” bekend staan, gebore. Die ouerpaar kon haar net ‘n paar sekondes na die geboorte sien, waarna sy weggeneem is vir spesialisbehandeling in die neonatale waakeenheid van die Netcare Clinton Hospitaal in Alberton. Op 13 Januarie is ‘n pypie ingesit om vog van haar brein af te laat dreineer. Die eerste poging het nie goed gefunksioneer nie en die prosedure moes op 27 Januarie herhaal word.

Lees die berig hier verder op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad:

Klein ‘wonderwerkie’ klou vas en word al sterker | Vaalweekblad

 

Related Articles

Back to top button