NewsNews

Vaaldriehoek-paartjie se ure van angs toe blouligbende toeslaan

Volgens nie-amptelike inligting van 'n betroubare bron is meer as 50 voertuie die afgelope jaar op soortgelyke manier op dié pad gekaap.

VEREENIGING. – “Na so ‘n kaping dink mens aanhoudend terug oor wat jy anders kon gedoen het, maar die kapers was soveel meer as ons, en boonop gewapen. Jy staan nie ‘n kans teen hulle nie. Ek dink wat ons gered het, is dat ons heeltyd stilgebly en gedoen het wat hulle sê.” Só sê Pieter Lamont van Risiville, wat op 19 Desember saam met sy meisie, Naleen Lombard, en susterkind Zander (15) op die N3-roete deur ‘n blouligbende gekaap is.

 

Die paartjie vertel dat hulle die betrokke naweek saam met vriende ‘n ovaalbaanwedren in Richardsbaai bygewoon het en die aand in redelike druk verkeer op pad terug was na Vereeniging  toe ‘n voertuig tussen Warden en Grootvlei heeltyd baie na aan Pieter se wit Toyota Legend 50-dubbelkajuitbakkie gery het. ‘n Blou lig op die voertuig is uiteindelik aangeskakel. Vir Pieter, wat die pad gereeld ry, was dit nie ongewoon nie omdat daar gereeld padblokkades en polisie op die stuk pad is. Hy het stilgehou en twee “polisielede”, wat ligblou reflekteerbaadjies aangehad het, het weerskante van hul voertuig kom staan en  professioneel gegroet. Hulle het na die lisensieskyfie gekyk en gevra of daar enige alkohol of dwelmmiddels in die voertuig was, waarop die paartjie nee geantwoord het. Die volgende oomblik het die “polisielid” wat aan Pieter se kant gestaan het, sy arm deur die oop venster gedruk en die bakkie se deure gelyktydig met die sentrale sluitstelsel oopgemaak. Binne sekondes was daar vier mans in die bakkie. Twee van die kapers het bo-op Naleen in die voorste passasiersitplek kom sit en Pieter is van agter af aan sy nek bo-oor die middelste paneel van die voertuig gepluk sodat sy bene na die voorkant toe gewys het. Hy het nog probeer om die noodligte aan te skakel maar kon nie daarin slaag nie. Nog twee mans het agter by Zander ingeklim.

 
 
Illustrasiefoto: So lyk Pieter se bakkie, wat steeds vermis word.

Die kapers, wat onder andere met ‘n 9mm-pistool gewapen was, het die paartjie en Zander se selfone afgevat en ook hul bankkaarte, pinkodes en geld geëis. Aldrie se polse is met kabelbinders vasgemaak en hulle is beveel om te “slaap”. “Ek het besef ons moet kalm bly en net doen wat hulle sê,” sê Pieter. Die paartjie se vriend,  Kobus (‘n skuilnaam), wat ‘n ent agter hulle met sy eie gesin in ‘n Ranger gery het, het gesien die bakkie het gaan stilstaan en het aanvanklik vermoed dat hulle ‘n papwiel gekry het. Die kaper wat agter die stuur ingeklim het, het teen ‘n hoë spoed in die verkeer in weggetrek en so roekeloos gery dat  Kobus besef het iets is verkeerd omdat dit glad nie Pieter se normale bestuurstyl was nie. Kobus kon Pieter se bakkie nog tot by ‘n brug sien, maar het hom uit die oog verloor toe die kapers op ‘n sypad afdraai. Kobus het dadelik Pieter se selfoon begin bel, maar die kapers het dit keer-op-keer doodgedruk. Volgens Pieter en Naleen was die kapers baie angstig en het heeltyd hard met mekaar gepraat en skynbaar rusie gemaak. Een van die kapers het Naleen se oë met sy hand toegedruk en Pieter, wat steeds halflyf tussen die voorste sitplekke gelê het, se hemp is oor sy kop getrek sodat hy nie kon sien waarheen hulle ry nie. “Hoewel ek Pieter nie kon sien nie, het ek sy been heeltyd teen my gevoel en geweet hy is daar,” sê Naleen.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad hier: Vaaldriehoek-paartjie se ure van angs toe blouligbende toeslaan | Vaalweekblad  

Related Articles

Back to top button