NewsNews

Jongman sterf meer as ‘n week na ongeluk

‘n Jongman van Fochville het dié naweek gesterf na hy meer as ‘n week vantevore in ‘n ongeluk in die dorp betrokke was.

‘n Paramedikus van Fochville, mnr. Leander Venter, sê ‘n lid van die GPF het hom die middag van Donderdag 30 Desember gebel om na die ongelukstoneel te gaan. Met sy aankoms was paramedici van twee ander dienste reeds op die toneel.

Anrico Schneider (24) het omstreeks 15:30 in Siebertstraat met sy motorfiets gery toe sy remme by die T-aansluiting met Van der Westhuizenstraat onklaar geraak en hy teen ‘n aankomende voertuig vasgery het.

“Hy was volkome by sy bewussyn toe ek hom behandel het en hy het met ons gepraat. Ek het egter gesien dat sy enkel en bobeen sleg gebreek was,” sê Venter.

Venter sê hy het as gevolg van dié ernstige beserings ‘n helikopter ontbied om Anrico na ‘n groter hospitaal toe te vlieg omdat hy buitendien na ‘n ander hospitaal oorgeplaas sou word indien hy eers plaaslik behandel is.

Hoewel Anrico die dag van sy ongeluk steeds by sy bewussyn was waar hy in die Union Hospitaal behandel is, het hy volgens ‘n berig deur Obervaal Stereo, waar sy oom,  Marius Schneider werk, later ‘n beroerte in dié hospitaal gehad.

Hy is die middag van Sondag 9 Januarie in dié hospitaal as gevolg van komplikasies na die ongeluk oorlede.

Volgens Overvaal Stereo was Anrico oorspronklik van Orkney in Noord-Wes, waar hy gebore is, maar het die laaste paar jaar van sy lewe in Fochville gewoon.

Volgens sy Facebook-profiel het Anrico as tegnikus by GTSM by Sibanye-Stillwater gewerk.

“Sy dood is ‘n groot skok vir ons almal,” sê Venter.

Ons innige meegevoel met die familie.

 

Related Articles

Back to top button