NewsNews

Water bedreig huise en die pad

Inwoners van Welverdiend is bekommerd dat water van die Wonderfonteinspuit wat net buite die dorp opdam, binnekort die huise in gevaar sal stel.

Volgens ‘n raadslid van die dorp, mnr. Tollie Lubbe, dam water al meer buite die dorp op.
Die rede hiervoor is dat die onderkant van die brug oor die Wonderfonteinspruit met jare se grond, plantmateriaal en ander gemors geblokkeer is.
Die pad oor die brug is ‘n gewilde roete vir bestuurders wat na die N14 en Ventersdorp sowel as na Rysmierbult ry.
Die water wat onder die brug opstoot, het al voorheen die pad só van onder af begin beskadig dat slaggate op spesifieke plekke bo-op die pad ingeval het.
Die Gautengse provinsiale paaie-afdeling moes dit herstel. Die water dam egter nou so baie op dat dit al nader aan die dorp begin beweeg. Die feit dat verskeie sinkgate al die afgelope dekade in die veld tussen die rivier en die dorp is, maak die probleem net al erger.
Lubbe sê hy is baie bekommerd oor die probleem en het dit reeds by die provinsiale owerhede aangemeld. Die Herald het egter die afgelope week by die provinsiale paaie-afdeling sowel as die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit navraag gedoen.
Volgens die munisipaliteit se woordvoerder is hulle wel besig om aan die probleem aandag te gee.
“’n Skraper is gehuur om die spruit skoon te maak, maar kon nie al die werk voltooi nie, omdat betogers die bestuurder verjaag het. Die masjien sal in Januarie 2022 teruggebring word om die werk te voltooi,” sê sy.

Related Articles

Back to top button