NewsNews

Geliefde onderwyser sê totsiens

Een van die bekendste onderwysers van Fochville en die omgewing het verlede week afskeid geneem om met ‘n nuwe hoofstuk in sy lewe te begin.

Mnr. Bobby Mcleod was die afgelope 31 jaar ‘n onderwyser by Hoërskool Fochville en was veral bekend vir die rol wat hy as sport- en rugby-organiseerder gespeel het.
Hoewel dié pos hom ‘n bekende Fochviller gemaak het, is “Meneer Bobby”, soos die meeste inwoners hom ken, eintlik ‘n gebore Carletonviller. Hy het sy skoolloopbaan aan Laer Gedenkskool Danie Theron en Hoërskool Carletonville voltooi en daarna aan die voormalige PU vir CHO gaan studeer. Hy het ná sy weermagopleiding by die Hoërskool Fochville-familie aangesluit en was tot 9 Desember op sy pos by die skool. In die jare by Hoërskool Fochville was Mcleod ‘n geliefde geskiedenis-onderwyser, wat nie net altyd bereid was om na leerlinge te luister nie, maar het ook verskeie prestasies as sportafrigter en -organiseerder behaal.
Volgens die skool se vorige hoof, mev. Ronel Lamprecht, wat self in Maart vanjaar afgetree het, was Mcleod ‘n steunpilaar.
“Hy het regtig my hande sterk gemaak as hoof en het die sport en dissipline, wat hy regtig op ‘n remediërende wyse toegepas het, by die skool hanteer. Hy het ‘n verskil in soveel kinders se lewens gemaak. Hy was vir baie ‘n rolmodel en ook in baie gevalle die pa wat hulle nie by die huis gehad het nie,” sê sy. Hy was vir bykans drie dekades die eerstespan afrigter en was ook met tye onder meer die bestuurder en ‘n afrigter van die Lions Cravenweekspan, ‘n assistant-afrigter van die Grant Khomo-span en ‘n afrigter en bestuurder van sekere junior provinsiale Lions spanne.
Mcleod het sy liefde vir onderwys na sy twee kinders, Shannon en Duncan, oorgedra, en hulle is albei ook onderwysers. McLeod het as onderwyser afgetree en sê dat hy “met geweldige heimweë” van Hoërskool Fochville afskeid neem.
Danksy ‘n aanstelling as die bemarkings- en promosiebestuurder by Hoër Volkskool Potchefstroom, ‘n pos wat hy van die begin van volgende jaar beklee, sal Mcleod egter steeds sy liefde vir veral skolesport kan uitleef. Mcleod en sy vrou, Tercia, sal egter steeds inwoners van Fochville bly.

Related Articles

Back to top button