NewsNewsSportSport

Toe hy eers begin kompetisie-hengel was daar geen keer nie

Toe hy eers begin kompetisie-hengel was daar geen keer nie

In die Van Zyl-huishouding word daar hengel gepraat, gedink en geskryf. Hoe anders met pa en seun albei kranige hengelaars, en ewe geesdriftig oor die viswaters. Dis immers nie enige Jan Rap en sy maat wat met ‘n yslike 14,12kg baber op die voorblad van Die Oewerhengelaar kan pryk nie.

Dié eer het Thian, ‘n finale jaar teologie-student aan die NWU se Puk-kampus te beurt geval vir die hengeltydskrif se November-uitgawe. Die knewel van ‘n baber waarmee hy op die voorblad spog, is by ‘n oord in die Vredefort-Koepel in die Vaalrivier gevang. In Maart 2022 gaan Thian en sy pa, André, beide aan die SA Varswaterhengelkampioenskappe deelneem. Thian vir die B-span en André vir die D-span. Thian self hengel ook einde November by die nasionale-proewe.

Thian en André van Zyl tydens ’n winteroefensessie by Klipdriftdam. Foto: Verskaf

Thian was twee jaar oud toe hy sy eerste geelvis by die Sandgat in Rotarylaan, Parys gevang het. Hy kon skaars loop, maar die hengelgogga het gebyt. Daar was egter nooit die regte geleentheid om op kompetisie-vlak te hengel nie. Toe hy gaan studeer, het ‘n koshuispêl hom aangemoedig om vir Vaal Reefs te hengel.

Só het hy eers in 2019 begin kompeterend hengel. Sy eerste hengelkompetisie was boonop provin-siale proewe, en net daar het sy talent hom ‘n plek in die Sentraal Noordwes C-span besorg.

Met sy eerste SA-deelname het sy span ‘n tweede plek behaal.

Vanjaar was sy tweede SA-deelname waar die C-span waarvoor hy gehengel het, weer ‘n tweede plek verower het, en hyself goud vir die swaarste sak (114kg), en goud vir die swaarste visspesie gevang by die kampioenskap.

 

 

Thian met die sak vis wat hy gevang het op die laaste dag van vanjaar se SA-kampioenskappe waar hy algeheel vyfde geeïndig het. Foto: Verskaf. Regs: Thian en André van Zyl tydens ’n winteroefensessie by Klipdriftdam. Foto: Verskaf

Wanneer hy einde November aan die SAVOF nasionale proewe sal deelneem, sal Thian teen die beste hengelaars uit elke provinsie moet kompeteer. ‘n Groot prestasie vir iemand wat net drie jaar gelede nog met ‘n bass-stokkie sy merk moes maak, en nou drie jaar agtereenvolgens al in Sentraal Noordwes-kleure kon hengel.

Thian is ‘n ambassadeur vir die Legends Legacy produk-reeks. Hy vertel dat hy al sy hengelkennis gekry het by Barend Breedt, eienaar van die Legends Legacy produkreeks, en self ’n wêreldkampioen hengelaar. Barend het begin om Thian se sukses langs die viswater op sosiale media te deel, en só het die talentvolle jong hengelaar se sukses ook die aandag getrek van Werner Lubbe van Die Oewerhengelaar. Thian het Werner by Swadini ontmoet en kontak met hom gehou.

Só het Werner ook Thian se skryf- en bemarkingsvaardighede ontdek, en is twee van Thian se artikels al in Die Oewerhengelaar gepubliseer. Tans fokus hy met sy artikels op stroppe en skryf hy oor die gebruik van die verskillende stroppe. Daarbenewens het hy ook ’n stok-resensie gedoen met ’n interessante hengeluitdaging tussen Werner en Thian wat op video vasgevang is.

Vir pa en seun is die lekker om hul hengelliefde en die wenke en kennis wat hulle saam al bymekaar gemaak het, te kan deel en van mekaar te kan leer.

Thian is ’n oudleerder van Hoërskool Parys, en is die voorbladfoto met Thian vir Die Oewerhengelaar, geneem deur nog ‘n oudskolier van Parys, Sean van Pletzen.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Parys Gazette:

Toe hy eers begin kompetisie-hengel was daar geen keer nie | Parys Gazette

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button