NewsNewsSportSport

Fochville se gimnaste presteer by SA’s

Jong gimnaste van Fochville het verlede week die omgewing se naam hoog gehou tydens dié sport se nasionale kampioenskap.

“Ek sou nie dié tyd verlede jaar kon dink dat ons nou so goed sou doen nie,” sê die hoofafrigter en eienaar van die Losberg Gymnastics gimnastiekklub, JJ Strydom.
Vier van die klub se gimnaste het van 1 tot 10 Oktober aan die SA Gimnastiekspele in Centurion deelgeneem.
Tristan Ferreira (12), Pieter de Beer (15), Dawid Pretorius (12) en Kgosi Msimango (13) het hul staal tydens dié byeenkoms gaan wys. Meer as 2 000 gimnaste van regoor die land het aan die Spele deelgeneem.
Die Fochvillers het gewys dat hul vir niemand hoef terug te staan nie. Pieter en Dawid het albei onder die top tien beste gimnaste in hul ouderdomsgroepe in die land geëindig. Tristan het algeheel 13de in haar ouderdomsgroep geëindig.
Dié prestasies is die gevolg van baie harde werk deur Strydom.
Dié entoesiastiese afrigter het die klub drie jaar gelede op die ouderdom van net 18 jaar begin.
Hoewel hy ook as leerling-onderwyser begin werk het, het Strydom gou agtergekom dat gimnastiek sy eintlike passie is en het dit vroeër vanjaar voltyds begin doen.
Nadat die klub tussen sale geskuif het, is dit nou in die saal van die Gracepoint Kerk in Vredestraat gevestig. Die klub het sedert sy ontstaan, maar veral die afgelope jaar, baie gegroei.
“Ons het met net 15 kinders begin, maar het nou 104 lede wat ingeskryf is,” sê Strydom.
Die oudste gimnas is 39 terwyl kleingoed van verskeie kleuterskole ook lede is.
Volgens Strydom het die inperkings op skolesport wat deur Covid-19 genoodsaak was, baie kinders na die klub laat kom.
‘n Hele paar ry van sover as Westonaria om te kom oefen en verskeie het besluit om met gimnastiek aan te gaan toe van die ander skolesporte weer geopen het.
Die rede hiervoor is dat gimnastiek ‘n uitstekende sport is om kinders se spiere, koördinasie en konsentrasie te ontwikkel.
Behalwe vir Strydom, maak Cheslyn Ferreira lede in artistiese en ritmiese gimnastiek en Daniëlle Strydom hulle in artistiese gimnastiek touwys. Daniëlle is ook die klub se choreograaf.
Lizette Strydom is die trampolienafrigter, terwyl Wayne Strydom ook met trampolien en artistiese afrigting help.

Tristan Ferreira (12) was algeheel 13de in haar ouderdomsgroep.

Related Articles

Back to top button