NewsNews

Vermeende foonsekspes vasgetrek

Die vasberadenheid en goeie speurwerk van ‘n Potchefstroomse privaat speurder, Johan Botes, het vrugte afgewerp toe ‘n seksoortreder Donderdag (30 September) in Gqeberha in hegtenis geneem is.

Die vasberadenheid en goeie speurwerk van ‘n Potchefstroomse privaat speurder, Johan Botes, het vrugte afgewerp toe ‘n seksoortreder Donderdag (30 September) in Gqeberha in hegtenis geneem is. Die beskuldigde het daarvoor bekend geword om homself tydens WhatsApp-oproepe te ontbloot en tydens die oproep te masturbeer. Sy slagoffers was meestal vroulike eiendomsagente. ‘n Polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, Priscilla Naidoo, sê die 36-jarige beskuldigde het Vrydag (1 Oktober) in die landdroshof in Gqeberha (Port Elizabeth) verskyn op aanklag dat hy ‘n volwassene gedwing het om na selfmasturbasie te kyk, ontbloting en crimen injuria. Hy het die naweek in aanhouding gebly en sal vandag (Maandag, 4 Oktober) weer in die hof verskyn.

 

Volgens Botes het die beskuldigde die afgelope agt jaar eiendomsagente landwyd sover as Tzaneen en die Kaap geterroriseer. Eiendomsagente in Potchefstroom was ook aan sy afstootlike gedrag blootgestel. Botes vertel dat hy in 2020 aan die saak begin werk het nadat ‘n skoolvriend hom genader het. Dié vriend se vrou het so ‘n oproep van die beskuldigde ontvang. “Dit is baie moeilik om sulke mense vas te trek. Hulle is baie slim en wissel gereeld hulle simkaarte. Nadat ek genoeg bewyse ingesamel het en nadat ‘n vrou hom identifiseer het as iemand wat saam met haar op skool was, het ek drie maande gelede die polisie in Gauteng se eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad (SECI) genader om betrokke te raak. Met die hulp van die kuberintelligensie-eenheid het die SECI die verdagte nagespoor, in hegtenis geneem en op sy selfoon beslag gelê”, vertel Botes. Hy sê die sekspes het vrouens landwyd geviktimiseer deur hul telefoonnommers op die web te kry en daarna te bel. “Hy het sommige vrouens tot sewe keer op een dag gebel. Sy optrede het baie skade veroorsaak”, sê Botes en vertel hoe een van die vrouens wat gebel is toevallig ‘n verkragtingslagoffer was wat weer van vooraf aan ‘n seksoortreder blootgestel was. Sommige vrouens se mans het hulle daarvan beskuldig dat hulle buite-egtelike verhoudings gehad het en ander se kinders is weer aan die ontstellende video-oproepe blootgestel. Botes sê dat 25 vrouens verklarings afgelê het, maar dat sy slagoffers waarskynlik meer is. Hy doen ‘n beroep op enige ander vrouens wat moontlik ‘n slagoffer van die verdagte was om hom te skakel by tel. 082 227 9823 of a.o. Huligonda Smuts van die Walmer-speurtak by 082 319 8707.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: Vermeende foonsekspes vasgetrek – Potchefstroom

Herald

Related Articles

Back to top button