NewsNews

‘Die hel het losgebars’: boer verpletter na diere brand

Martin Becker, eienaar van Masuma, wie se plaas Vrydag byna heeltemal afgebrand het, vertel sy nagmerrie ondervinding.

“Die vuur het ‘n paar warrelwinde meters die lug in gemaak wat vinnig in alle rigtings begin waai het. Dit het gevoel asof die hel losgebars het.” So vertel Martin Becker, eienaar van Masuma, wie se plaas Vrydag byna heeltemal afgebrand het.

Die Becker-gesin boer vir die afgelope 16 jaar hier met beeste en wild. Sowat 300 van die 330 hektaar is tot op die grond verskroei.

Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes Sambreel Brandbeskermingsvereniging, vertel dat die brand laatoggend op ‘n staatsplaas suid van Masuma ontstaan het. Martin het hom gebel en vertel dat hy rook sien, maar toe was die Brandbeskermingsvereniging, Potchefstroom Brandweer en Working on Fire reeds op die staatsplaas besig om die brand onder beheer te bring. Volgens Eric het die vuur later buite beheer geraak toe die wind meer noord in die rigting van Masuma begin waai het.

Martin het probeer om te help om die vuur te blus, maar het op ‘n stadium besef dit is buite beheer en het probeer om sy diere te red. “Ek en die trekkerdrywer was saam met 85 beeste teen ‘n draad vasgekeer. Iemand het toe vir ons ‘n pad oopgespuit. Diere word wild en angstig met die vuur en rook, maar gelukkig kon ons al die beeste red. Ek is die hartseerste oor die wild wat nie betyds kon wegkom nie en ernstige brandwonde opgedoen het,” vertel Martin. Hy sê dat hulle ook probeer het om ‘n groep elande te red en was ook saam met hulle teen ‘n draad vasgekeer. Hulle het later besef dat dit nie moontlik gaan wees om die elande te red nie en het self probeer wegkom deur met die bakkie deur kort vlamme te ry.

“Die elande het probeer om oor die wildheining te kom, maar het in die proses baie seergekry. Van hulle kon daarin slaag om te vlug, maar die res het deur die vuur gehardloop en hul onderlywe is erg verbrand. Ek was so geskok toe ek later een van die elandkoeie sien. Sy het in die bakkie vasgeloop omdat die rook en vuur haar oë gebrand het. Sy het baie brandwonde opgedoen. Dit is hartverskeurend om diere so te sien ly,” vertel Martin, terwyl hy kort-kort moet stilbly om die knop in sy keel weg te sluk. Hy vertel dat hulle nou die elandkalfies melk uit bottels moet gee omdat die koeie se spene gebrand het.

Tocks Becker, Martin se seun, is besig om ‘n elandkalfie melk uit ‘n bottel te gee nadat die koei se spene gebrand het. Foto: Verskaf

Eric vertel dat die brandbestryders se taak baie bemoeilik is omdat daar nie voorbrande op die staatsplaas gemaak is nie. “Die brandbestryders het dus nie geleentheid gehad om teenbrande te maak nie,” sê Eric. Verder sê hy dat daar doelbewus vuur op die plaas gemaak is, maar dat Vrydag ‘n oranje brandgevaar-indeksdag was, wat beteken niemand mag vuurmaak nie. Dr. Kobus Roux, hoof van die Brandbeskermingsvereniging van Potchefstroom, het ook bevestig dat die bestuurder van die staatsplaas nie lid van die brandbeskermingsvereniging is nie. Eric sê verder dat SANRAL ook verantwoordelik is om voorbrande op die skouer van die Ventersdorppad (R53) te maak maar dat dit nie gedoen was nie. Voorbrande keer dat die brand tot by die teerpad kom en verhoed dat digte rook die sig van motoriste in die pad belemmer. Martin het bevestig dat regstappe geneem gaan word teen die huurder van die staatsplaas. Hy het skade gely met die wildheining wat in die brand beskadig is, die weiding wat afgebrand het en die wild wat hy verloor het. “Ek gee nie om vir enige skade nie. Dit is net vir my verskriklik om die diere so te sien ly,” sê hy hartseer.

‘n Elandkalfie se brandwonder word behandel. Foto: Verskaf

Eric sê die Noordwes Provinsie het vanjaar ernstige skade met brande gely. Volgens ‘n satellietprogram wat die afmetings van brandskade presies kan bepaal, het 620 863 hektaar in die Noordwes afgebrand. Dit is 12% van die provinsie se landbougrond. Die skade word sover op R2,75 miljard tot R3,5 miljard bepaal.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘Die hel het losgebars’: boer verpletter na diere brand – Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button