NewsNewsSportSport

Carletonville gimnaste deur na SA’s

Twee jong gimnaste van Carletonville het onlangs vir dié sport se nasionale kampioenskap gekwalifiseer.

Volgens die afrigter van die Gymville Gimnastiek en Tuimelklub, Mariska Jansen van Rensburg, is dié klub se gimnaste vuur en vlam om weer na die inperkingstyd te wys wat in hulle steek.
Drie van die klub se gimnaste, Marli Labuschagne (o.9), Lalu-Jé Viljoen (o.10) en Lizandri Burger (o.10) het op 28 Augustus aan die Sentraal-Gauteng Distrikskompetisie by Cedar Road in Chartwell naby Fourways deelgeneem.
“Hulle neem aan hoë graad gimnastiek deel, waarin hulle vol provinsiale en nasionale kleure kan verdien,” sê Jansen van Rensburg.
Al drie die gimnaste het só goed presteer dat hulle vir die Gauteng Kampioenskap gekwalifiseer het wat op 11 September in Eldoraigne in Centurion gehou is.
Hier het die jong sterre wéér hul staal gewys. Lalu-Jé het silwer- en bronsmedaljes ingepalm en algeheel vierde in haar ouderdom geëindig. Sy en Lizandri is beide vir die Gauteng Provinsiale-span, wat aan die sport se nasionale kampioenskap wat op 8 Oktober in Centurion gaan meeding, gekies.
Wat Lizandri se prestasie besonder maak, is dat die distrikskompetisie haar heel eerste kompetisie was aangesien sy nooit op juniorvlak deelgeneem het nie.
Ongelukkig was klein Marli se senuwees geknou toe die deelnemer net voor haar geval en haar arm gebreek het.
Die Gymville Gimnastiek en Tuimelklub bestaan al vir 25 jaar en het deur die jare van Carleton Jones High School na ‘n saal by die koöperasie na onder meer die Carletonville Sportsentrum geskuif. Die klub oefen nou by ‘n private saal oorkant die Sportsentrum.
“Gimnastiek is een van die min sportsoorte wat al jou spiere én jou breinkrag oefen. Dit leer kinders veral dissipline, fokus en hoe om te konsentreer. Ons het al baie kinders gehad wat aandagafleibaar (ADHD) was en daarmee gehelp is. Gimnastiek help ook kinders met spierprobleme baie. Ons werk dan gewoonlik hul oefeninge saam met hul fisioterapeut uit,” sê Jansen van Rensburg.
Belangstellendes van alle ouderdomme is welkom om by die klub aan te sluit. Planne is in plek om junior gimnastiek by twee kleuterskole te begin, terwyl volwasse gimnaste ook “parkour” kan doen indien hulle wil.
Dié wat meer wil weet, kan Jansen van Rensburg by 079 333 5241 skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button