NewsNews

Fochville Burgersentrum lyk beroerd

Fochville Burgersentrum lyk beroerd.

Wat eens op ‘n tyd Fochville se trots was, staan nou soos ‘n seer oog op die bult langs Losberglaan uit.
Verskeie inwoners het die afgelope tyd gekla dat die Fochville Burgersentrum net al slegter lyk. Die terrein is al vir jare oorgroei en onkruid en gras groei oral deur die plaveisel. Om dinge erger te maak, word ‘n deel van die parkeerterrein al sedert die begin van die jaar deur ‘n kontrakteur beset.
Hul werksarea is met vaal lappe van die res van die terrein afgeskort.
Die gebou self se pleister het al só verkleur dat dit op baie plekke vaal kolle het. Teen een pilaar naby die voordeur is daar al vir jare ‘n gat in die pleister en op ander plekke naby die dak begin daar al plek-plek gras deur die pleister groei.
Hoewel die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit, aan wie die gebou behoort, reeds jare gelede gesê het dat daar planne is dat die gebou herstel sal word, het dit nooit gebeur nie. Inwoners moet ook al van so lank as 2016 af na die munisipale hoofkantoor in Carletonville ry indien hulle probleme met rekeninge en ander sake wil uitsorteer.
“Hulle kan maar die vuil wit olifant permanent sluit. Niemand werk meer daar nie. Dit sal goedkoper wees om navrae by ‘n sentrale gehuurde kantoor te doen,” het ‘n ongelukkige inwoner die afgelope week op sosiale media gekla.
Verskeie verteenwoordigers van opposisiepartye in Fochville, waaronder die DA en VF Plus, het al oor die swak toestand van die stadsaal gekla.
Hoewel die munisipaliteit al in April belowe het dat die kontrakteur die perseel “binnekort” sou verlaat, is geen verdere antwoorde gekry oor wat hul planne met die gebou is nie.

Die eens netjiese gebou is meer as ‘n dekade laas geverf.
Van die pleister het reeds jare gelede na ‘n vuur afgeskilfer.frtgr98

Related Articles

Back to top button