NewsNews

ANC-chaos met kandidatelyste ‘enorme geleentheid’ vir DA

Die ANC se versuim om sy kandidate betyds vir die komende munisipale verkiesing te registreer, kan ’n enorme geleentheid vir die DA skep om aansienlik in Noordwes te groei.

Die ANC se versuim om sy kandidate betyds vir die komende munisipale verkiesing te registreer, kan ’n enorme geleentheid vir die DA skep om aansienlik in Noordwes te groei.

Dit kan die weg vir die vestiging van ‘n nuwe meerderheid baan, “wat ‘n werklike ommeswaai teen korrupsie en diensleweringsprobleme kan bring” wat Noordwes op sy knieë het,” het John Steenhuisen, DA-leier, verlede Donderdag in Potchefstroom gesê.

“Noordwes is diep in die moeilikheid. Die chaos in die ANC kan die draaipunt wees, maar dan moet mense nie hul stem op klein partye mors nie. Dit pas die ANC as die land in klein partye verdeel is en hy sy meerderheid kan behou, maar hy vrees ‘n sterk, nierassige meerderheid mense van verskillende agtergronde wat dieselfde waardes en beginsels deel.”

Steenhuisen het lede van die Potchefstroomse Sakekamer toegespreek as deel van besoeke verlede week aan verskillende dorpe in die provinsie en gesprekke met sakeleiers asook organisasies soos Agri Noordwes.

“Mense is uitsigloos en voel daar kom niks van die regering se beloftes nie,” sê Steenhuisen.
“Dorpe in Noordwes beleef van die ergste diensleweringsprobleme landwyd, veral met water, riolering en kragtoevoer. Munisipaliteite bestaan net op papier, niks gebeur in woonbuurte nie.”
Hy sê werkloosheid en armoede bly ook nog ‘n groot probleem.

“Van pres. Cyril Ramaphosa se beloftes oor werkgeleenthede en die uitroei van korrupsie het niks gekom nie. ‘n Volle 30 miljoen mense in Suid-Afrika leef in armoede en ons het die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld. Die ANC se pad is dieselfde een wat Kuba en Zimbabwe geloop het: een na sosialisme wat hierdie lande vernietig het.”

Steenhuisen sê mense moet hulself dít afvra: “Wie kan ek vertrou om te sorg dat daar water is wanneer ek die kraan oopdraai, kragtoevoer wanneer ek ‘n lig aansit en dat riool nie in strate en vleie beland nie? Die DA het ‘n bewese rekord dat hy dié dinge gedoen kry in die provinsies en dorpe waar hy regeer.”

Hy sê indien die DA aan bewind kom, sal hy ’n “vaardige staat vry van kaderontplooiing” vestig.
“Die Zondo-kommissie het reeds gehoor hoeveel skade kaderontplooiing berokken het.”
Selfs die DA sal 25 jaar se verval nie dadelik en alleen kan oplos nie, sê Steenhuisen.

“Ons sal hande vat met burgerregteorganisasies soos AfriForum en boereorganisasies soos Agri Noordwes, soos ons reeds in Modimolle (in Limpopo) gedoen het. Die DA wil ’n meerderheidsparty word wat die land van rampokkers red wat soveel skade veroorsaak. Ons krag lê in ons stemme. Waar die DA regeer, kan ons dinge verander. Ons praat nie net nie, ons doen.”

Jonathan Baron, voorsitter van die Potchefstroomse Sakekamer, wou weet watter verskil die DA kan maak indien die party nié ’n meerderheid behaal nie.

Cilliers Brink, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het toegegee dis onwaarskynlik dat die party dit nou al sal bereik, maar DA-raadslede maak steeds ‘n verskil deur “buite die stelsel” saam met burgerregteorganisasies te werk.

Brink sê die party ondersteun die landbousektor reeds in prosesse om gouer te kan optree in gevalle van grondgrypery, asook Sakeliga se hofgeding tans waarin hy vra dat die hof ’n “betaalmeester” aanstel wat elektrisiteits- en watergeld sal ontvang wat gewoonlik aan onderskeidelik die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteite in Noordwes betaal word. Dit sal verseker dat water- en elektrisiteitsverskaffers gereeld betaal word.

Brink sê selfs al regeer die DA nie, kan die party met sulke vennootskappe help om dorpe “bewoonbaar te maak en staatsverval om te keer”.

Chris Hattingh, kiesafdelingshoof van die J.B. Marks-munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, het verwys na die bedrogsaak teen Kgotso Khumalo, voormalige burgemeester, en ander amptenare, na aanleiding van aanklagte oor beweerde bedrog wat die DA vroeër by die Valke ingedien het. “Die dae wat die raad (belastingbetalers) kan besteel, is verby.”

ANC-chaos met kandidatelyste ‘enorme geleentheid’ vir DA – Potchefstroom Herald

 

Related Articles

Back to top button