NewsNews

VIDEO: Hoofkaptein van Gimmies se skip lê tuig neer

Op Dinsdag, 31 Augustus, het Potchefstroom Gimnasium se skoolhoof van die afgelope 13 jaar, mnr. Roelof Oosthuizen, vir die laaste keer in sy kantoor in Molenstraat gesit.

Op Dinsdag, 31 Augustus, het Potchefstroom Gimnasium se skoolhoof van die afgelope 13 jaar, mnr. Roelof Oosthuizen, vir die laaste keer in sy kantoor in Molenstraat gesit.

Mnr. Roelof Oosthuizen, skoolhoof van Potchefstroom Gimnasium het op 31 Augustus 2021 amptelik afgetree na 13 jaar by Gimmies. Foto: Wouter Pienaar

Die afgelope twee weke was ’n interessante tog nederige ervaring vir Oosthuizen wat op 65 jarige ouderdom aftree en die onderwys na 41 jaar se diens vaarwel roep.

Video: Wouter Pienaar

Vir ‘n slag het die kollig direk op Oosthuizen geskyn met ‘n spoggerige afskeidsfunksie, ‘n verjaarsdagpartytjie, waar elke klas ‘n koek gebak het, sowel as ‘n erewag wat Gimmies op sy laaste dag as hoof vir hom gehou het. “Dit is werklik spesiaal en ek waardeer dit opreg. Dit laat my eintlik so bietjie skaam voel. Ek is nie een vir die kollig nie, omdat ek glo dat dit ‘n spanpoging verg en nie net een persoon is wat alles laat gebeur nie.

By Gimmies is ons ‘n hegte span waar almal hulle deel doen. Dis waarom ons presteer en sukses behaal,” verduidelik Oosthuizen nederig.

Die skool het ook vir Mnr. Oosthuizen ‘n spesiale 65-jarige verjaarsdagpartyjie by die skool gehou.

Sukses is iets wat veral in Oosthuizen se tydperk as hoof altyd met Gimmies geassosieer is. Op akademiese gebied is Gimmies as die beste kwintiel 4 skool in die land vir twee jaar (2016 en 2018) aangewys, terwyl 100 persent matriekslaagsyfers en talle onderskeidingskandidate die norm is.

Op die sportveld is Gimmies se atletiek, rugby, krieket, hokkie, netbal en ander kleiner sportsoorte ook van uitstaande gehalte. So ook op musiek en kultuurvlak. Dit is juis hierdie konsekwentheid wat Oosthuizen as die hoogtepunt van sy termyn by Gimmies sien.

Potchefstroom Gimnasium se skoolhoof, Roelof Oosthuizen oorhandig ‘n “cap” aan Gimmie Eerstespanspeler, Dirk Yssel.

“Daar is klomp hoogtepunte by Gimmies, maar wat vir my uitstaan is dat die skool in alle aspekte presteer het. Daar was ook tye waar die emosies hoog geloop het by groot sportbyeenkomste en om daarvan deel te wees en die vreugde saam die kinders te deel is spesiaal. Ek is ook trots dat die personeel by die skool uiters bekwaam is en dat daar ‘n konsekwentheid is van prestasie deur die jare,” vertel Oosthuizen met ‘n glimlag.

Oosthuizen se sukses is ook van sy persoonlike oortuigings afkomstig, waar wedersydse respek, waardes en selfdissipline van kardinale belang is.

“Dit is belangrik om waardes en self-dissipline by die kinders te kweek eerder as om uit vrees uit op te tree. Dit is ook belangrik dat my personeel gelukkig en tevrede is. Dit speel ‘n sleutelrol in hoe suksesvol ‘n skool is. Ek het volle vertroue in my bestuur en voel dat hulle met goeie werk sal aanhou. Dit moet nie eers voel of ek nie meer hier is nie,” verduidelik hy sy benadering.

Hoofseun Roubert Rousseau, skoolhoof mnr. Roelof Oosthuizen en hoofdogter Rizané van Rooyen is in ekstase omdat hul skool as die top akademiese skool in die land aangewys is. Foto: Wouter Pienaar
Hoofseun Roubert Rousseau, skoolhoof mnr. Roelof Oosthuizen en hoofdogter Rizané van Rooyen is in ekstase omdat hul skool as die top akademiese skool in die land aangewys is. Foto: Wouter Pienaar

Natuurlik was daar ook talle uitdagings wat hy moes hanteer en oplossings vind in moeilike tye. Die huidige Covid-19 pandemie was sekerlik een van die grootste uitdagings nog, maar Oosthuizen en sy personeel het seker gemaak dat hulle die Gimmie-skip op koers hou.

“Die onsekerheid en ontwrigting het dit baie moeilik gemaak. Die onderswysers en leerders het wel steeds hoë standaarde gehandhaaf en top resultate behaal, al was dit moeilik,” beaam hy.

Oosthuizen het ook die geleentheid gehad om na die Verenigde State van Amerika en China te reis waar hy onderwyskonferensies bygewoon het.

Oosthuizen by die Withuis in Washington DC.
Oosthuizen by die Withuis in Washington DC.

“Albei was ongelooflike ervaringe en ek het besef dat Gimmies vir geen van die wêreld se top skole hoef terug te staan nie. Ons is op dieselfde standaard,” vertel hy.

Direkteur-generaal van of Basiese Onderwys, Mr Hubert Mweli, die waarnemende hoof van Potchefstroom Girls High, Me. Gwendoline Duganzich, die hoof van Potchefstroom Gimnasium, Mnr. Roelof Oosthuizen en die Noordwes Departement van Onderwys se distrikdirekteur, Mnr. Benny Monale. Foto: Facebook/Potchefstroom High School for Girls.
Direkteur-generaal van of Basiese Onderwys, Mr Hubert Mweli, die waarnemende hoof van Potchefstroom Girls High, Me. Gwendoline Duganzich, die hoof van Potchefstroom Gimnasium, Mnr. Roelof Oosthuizen en die Noordwes Departement van Onderwys se distrikdirekteur, Mnr. Benny Monale. Foto: Facebook/Potchefstroom High School for Girls.

Oosthuizen se loopbaan het in 1981 by Hoërskool Koster begin waar hy ook as departementshoof opgetree het. By Hoërskool Wonderfontein het hy ook ‘n klompie jare spandeer en op 32 is hy as adjunkhoof aangestel en het die senior adjunkhoofpos beklee voordat hy in 2000 by Hoërskool Transvalia as hoof gedien het. Oosthuizen het in Januarie 2009 by Gimmies die tuig oorgeneem.

Oosthuizen gaan sy aftrede gebruik om meer tyd op sy plot te spandeer, saam met sy vrou, Marié, te reis sowel as meer by sy drie kinders (Janet, Wessel en Woudri) en vyf kleinkinders te kuier.

“In my 13 jaar by Gimmies kan ek beslis noem dat die Gimmie-gemeenskap ‘n besondere groep mense is en ek dit geniet het om elke dag hier te wees. Die vriendelikheid van die personeel en om sukses saam te vier is iets wat ek sal mis. My bloed bly Gimmie-Blou en ek glo dit sal baie goed gaan by Gimmies vir die volgende 100 jaar. Baie sterkte en voorspoed,” noem Oosthuizen.

*Mev. Christine Pienaar (adjunkhoof) gaan tydelik die leisels as hoof oorneem totdat die Departement van Onderwys ’n nuwe hoof aangestel het.

VIDEO: Hoofkaptein van Gimmies se skip lê tuig neer | Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button