NewsNews

Eikelaning se ‘restourasieproses’ begin

Eikelaning se ‘restourasieproses’ begin.

Die Eikelaan Belangegroep is al ‘n geruimte tyd besig om te beplan en te kweek sodat 15 nuwe eikebome hierdie week in die historiese eikelaan in Steve Bikostraat (voorheen bekend as Tomstraat) in Potchefstroom aangeplant word.

Dié belangegroep se tydsberekening is perfek, want hierdie  week (30 Augustus – 5 September) is Nasionale Boomplantweek en die kwynende eikelaan word stadig maar seker weer in ere herstel.

Danell de Wet, ‘n historikus van die Potchefstroomse Museum wat ook in die bestuur van Heritage Potchefstroom Erfenis dien, sê die bome is in 1910 aangeplant en later in 1977 as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit was op ‘n stadium die langste eikelaan in Suid-Afrika. Dit strek nagenoeg  7 km van die Damontspanningsoord tot by die Landboukollege.

Teen die 1980’s was dit duidelik dat die eikebome swaarkry. Na aanleiding van ‘n studie wat die Noordwes-Universiteit teen 2010 uitgevoer het, is daar vasgestel dat slegs 530 van die oorspronklike 710 bome nog lewe. Studies is onderneem en planne is beraam. Navorsing het getoon dat die hoofrede vir die agteruitgang van die bome ontoereikende grondwater was. Dit was gedeeltelik as gevolg van die kanaalstelsel van die dorp wat in 1972 gesluit het. Die toename in harde oppervlakke soos geboue, paaie en geplaveide areas, het veroorsaak dat die meeste van die water in stormwaterriole beland het en nie by die wortels van die bome uitkom nie.

Later het die munisipaliteit ‘n besproeiingstelsel langs die hele roete aangebring, maar dit was nie suksesvol nie omdat vandalisme en plaveisel wat onoordeelkundig onder die bome aangebring was, steeds bygedra het dat die bome nie genoeg water kry nie.

Danell sê verskeie komitees het daarna pogings aangewend om die eikelaan te bewaar totdat die huidige Eikelaan Belangegroep in 2017, onder leiding van Heritage Potchefstroom Erfenis, tot stand gekom het. Dié groep bestaan uit verskeie rolspelers, waaronder die Erfenisstigting, die J.B Marks munisipaliteit, die Potchefstroomse Sakekamer, Cachet Park City Improvement Project en personeel en studente van die Noordwes-Universiteit wat hulself beywer om die eikelaan te bewaar. Hulle het saamgewerk om ‘n fondsinsameling te loods sodat nuwe bome aangeplant kan word waar ander gevrek het. Chris van Niekerk, bestuurder van die NWU Botaniese Tuin het gehelp om die bome plaaslik te kweek. Kyk gerus volgende week of jy mense sien wat eikebome plant. Verskeie skole, besighede en individue in die dorp het hulle hulp aangebied om te help plant en sal die bome na die tyd versorg.

Vir navrae, donasies of om by die projek betrokke te raak, kontak Jolita Jansen van Rensburg by 082 775 8477 of e-pos eikelaanpotch@gmail.com. Hou ook hul Facebookblad “Potchefstroom Eikeboomlaning / Oak Avenue” dop om te sien hoe die projek vorder.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Eikelaning se ‘restourasieproses’ begin | Potchefstroom Herald

 

Related Articles

Back to top button